Vrou met R1,5 miljoen by haar vasgetrek ná transito-roof Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 26 February 2020 10:08
Untitled Document

‘n Vrou met R1,5 miljoen in ’n sak is op 3 Februarie in Pretoria in hegtenis geneem terwyl polisiebeamptes besig was om op te volg oor ‘n transito-roof buite Bronkhorstspruit.

In Januarie het ons berig dat ‘n beloning van R1 miljoen uitgeloof is vir inligting oor dié transito-roof op 7 Januarie. Polisiewoordvoerder, kolonel Brenda Muridili, het gesê dat die vier insittendes van die sekuriteitsvoertuig hardhandig verwyder is ná die voertuig van die pad afgestamp is. ‘n Onbekende aantal gewapende verdagtes het die voertuig gebombardeer en ‘n onbekende hoeveelheid kontant geneem.


Vuurwapens en ammunisie wat gevind is
Foto: Keitumetse Maako

Die verdagtes is met drie voertuie daar weg. Die motor wat hulle gebruik het om in die sekuriteitsvoertuig vas te ry, het aan die brand geslaan en is op die toneel agtergelaat. Geen beserings is gerapporteer nie.

Polisiewoordvoerder, konstabel Bontle Rahatji, sê dat polisiebeamptes die dag ná die vrou se in hegtenisname twee mans in Atteridgeville in hegtenis geneem het vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie wat met die rooftog verbind kan word. Hulle het ‘n geweer en drie 9 mm pistole, waarvan die reeksnommers afgeskuur is, gekry asook ‘n silver Mercedes Benz, wat in Januarie as gesteel in Verena, afdeling C, Ekangala, aangemeld is.

 

© 2020 Die/The Bronberger