Natuurvriende pak vuil vleiland en spruit PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 26 February 2020 10:05
Untitled Document

Wêreldvleilanddag is met skoonmaakaksies in Moreletapark en Faerie Glen gevier.

Vriende van die Faerie Glen-natuurreservaat het op 1 Februarie rommel uit die Moreletaspruit in die reservaat verwyder en Moreletakloof-natuurreservaat se vleiland is op 2 Februarie skoongemaak.


Die Moreletaspruit in Faerie Glen Natuurreservaat is ook skoongemaak
Foto: VFGNR

Die skoonmaakaksie by Moreletakloof is gereël ná die onlangse swaar reënbuie hope vullis in die stormwaterkanale afgespoel het en deur die spruit tot in die vleiland gevoer is. Sowat tien sakke vullis is opgetel.

Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, het die Moreletakloof-skoonmaakaksie van stapel gestuur. Hy sê dat vleilande van kardinale belang is omdat dit soos natuurlike damme funksioneer. Met swaar reën en donderstorms absorbeer vleilande die water en stel dit dan weer stadig deur die loop van die jaar vry.


Dewet Ungerer, Lambert de Klerk, Deidre du Preez en Morné Mostert by Moreletakloof-natuurreservaat
Foto: Noxolo Sibiya

“Sonder vleilande spoel dié afloopwater dadelik weg en gaan verlore. Vleilande beskik ook oor die vermoë om die hewigheid van vloede en droogtes deur die regulering van stroomvloei te verminder,” sê Lambert.

Hy het gesê dat meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande reeds vernietig is of agteruitgang toon.

 

© 2019 Die/The Bronberger