Maak die suur só soet Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 26 February 2020 10:00
Untitled Document

Natuurlik is alles nie altyd net maanskyn en rose nie: Nie in hierdie ondermaanse, hierdie land en ook nie altyd in dié gebied waarmee die Bronnie al bykans 18 jaar in die lief en leed van ons mense, ons herkoms, ons omgewing en ons natuurlewe deel nie.

Soms, as jy gepeper word met sekere uitlatings van die sogenaamde ‘hoofstroom-media’ en veral die (dikwels erg verdagte) mededelings op ‘sosiale media’, kan dit neig om die positiefste onder ons na donker droefenis te laat vervlak.

Gelukkig mag ons weens jare se volgehoue ervaring, onomwonde en met bewysbare oortuiging verklaar dat ons kontrei geseënd is met geesdriftige vasbyters. Hulle wat ook die ‘suur’ ervaar, maar daadwerklik die moue oprol om die ‘soet’ in plek te kry en dit so soet moontlik te hou: Hulle wat nie soos die grasveldwitjie-vlinders (bl 12) in massas landuit trek nie, maar wat met oortuiging volhard om te behou, te bewaar en te verbeter.

Nuwe besems beweeg die gebied binne, raak verstaanbaar verknog aan die Bronnie se baie uitsonderlike en diverse verspreidingsgebied en raak met oorgawe betrokke by die behoud en volhoubaarheid daarvan. ‘Ouer’ besems vee hulle stoppels stomp, maar slaag tog daarin om ‘n voortdurende, positiewe verskil te maak en om ander omgee-mense daarby te betrek. Ons lig vir julle in dankbaarheid die hoed.

Die omvang van die ‘suur’ lê redelik wyd en die versoeting daarvan se mense is getallegewys nog veel te min, dog genadiglik is hulle baie gedug. In hierdie uitgawe, kan jy lees oor hoe twee vroue hulle ontferm het oor wild wat in afgryslike strikke gevang is en daaraan iets daadwerkliks en lewensreddend gedoen het. 

‘n ‘Nuwe besem’ het in ‘n brief ‘n dwars veeg gegee na onwettige en onooglike oortredings van munisipale wette wat vir nege jaar nie aangepas is nie.

Lesers wat oor ons omgewing en die natuur se verval in vleilande en spruite besorg is, het ingespring om self iets ter herstelling daarvan te doen.

Die gemeenskap van een van ons voorstedelike gebiede het besluit om die vlindervlerke toe te vou en het met ‘n weldeurdagte plan vorendag gekom om hulle (eie) woongebied teen skurke te beveilig.

Op bladsy nege kan die storie oor die kanniedood-geaardheid van ‘n afgetrede predikant en sy vrou ná ‘n wreedaardige aanval op hulle, bes moontlik die nodige volhardende boodskap van hoop en vernuwing tuisbring.

Bogenoemde is net enkele voorbeelde. Voorbeelde uit ons gebied wat die sak en die as uit ons gemoedere en vlugplanne uit ons koppe sal laat verdamp en dit met daadwerklike optrede en die hoop en wete van die positiewe verskil wat elke Bronberger kan maak, vervang.

 

© 2024 Die/The Bronberger