?n Vaderkoppie op ?n sukkelplaas PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 17 July 2009 23:43
Untitled Document

Tant Bybs was my oorle ouma Anne se jongste suster. As die laatlammetjie in ’n groot gesin is sy Bybie genoem en soos die jare en die lyf gegroei het, het sy Bybs geword. Dis anderdag se Vadersdag wat my gedagtes met ’n wye draai ver teruggevat het na tant Bybs toe.

En na oom Apie Ras toe ook. My tant Bybs, eintlik my groot-tannie, was ’n formidabele vrou. Groot van gestalte en groot van hart. Ek onthou haar as ’n ronderige, bakbeen- tannie wat vinnig en hard gepraat het en altyd in overdraaif beweeg het. Alles wat sy doen, is doelgerig en op ’n drafstap gedoen.

Tant Bybs het haar as jongmeisie in die verpleegkunde loop bekwaam en dit was vir haar ’n rêrige roeping. Sy het nie plek gehad vir mans en vir trou in haar lewe nie. Matrone was sy later en ’n ou `sant-majoor uit die opperste rakke. En toe tant Bybs nou eers afgetree het, was sy nog sterk en hups en gereed om ander mense se lewens in te rig na haar `meerdere’ sin.

Sy het haar nuutgevonde vryheid gebruik om met haar ou Austin karretjie die land te deurkruis en oral by familie aan te doen waar daar siekte of ongesteldheid in die huis was. En dan het sy oorgestaan tot sy tyding kry van ’n ander familielid wat haar ‘hulp’ benodig en die pad gevat soontoe.

My ouma Anne het pertinent versoek dat hulle haar nie alleen met tant Bybs moet los as sy dalk ernstig ongesteld sou raak nie. Want, het my ouma gesê, Bybs druk jou oge toe nog lank voor die laaste asem jou lippe verlaat het.

Ek onthou hoe versigtig ons as kinders vir tant Bybs was en ek onthou hoe my oorle ma, self destyds al ’n baie sterk geëmansipeerde vrou, met oorgawe opgesien het na tant Bybs se kuiertjies. Tant Bybs het ondermeer die gewoonte gehad om die kokende kospotte op ma se stoof se deksels op te lig en dan terloopse kritiek te lewer. Ma het dit nie waardeer nie.

En tant Bybs het nie geskroom om die gebrek aan opvoeding uit te wys wat die stoutgeit van die kinders tot gevolg sou gehad het nie. ’n Regte ou busybody, het Ma haar genoem, maar ek het nie mooi verstaan wat se ding dit is nie.

En sjeim, sy het dit regtig só goed bedoel. Dis altans wat my oorle pa destyds vir my oorle ma gesê het. Maar ek onthou my ma het dit nie gekoop nie.

Toe tant Bybs Rousseau hier in haar 70’s loop draai, ontmoet sy vir oom Apie Ras van Wolmaransstad se wêreld. Oom Apie se kinders het iemand gesoek om hulle pa te verpleeg en so het dit gekom dat my tannie Bybs ’n slagoffer op ’n skinkbord gegee is om in haar afdraand-jare haar ingebore sorg-vir-die-stommedrommel- sindroom uit te lewe.

En so het dit ook gekom dat tant Bybs vir die eerste keer in haar welsynlewe getroud geraak het. Met oom Apie Ras in die NG-kerk van Wolmaransstad het my tant Bybs getrou – in leliewit getooi soos dit enige maagd van inbors sou betaam.

Ons het gaan kuier op oom Apie se plaas. Dit was ’n sukkelplaas. Nie baie ploegbare grond tussen die klipperige randjies nie en karige weiding vir ’n baie beperkte hoeveelheid mofskaap en droogtebees.

Ek onthou miershope, ’n kanonperd met die naam van Dobbin, baie ou bloekombome, tientalle stompstertkatte, maar ook ’n baie ou en baie mooi opstal. Een van daai met die wrap-around stoepe. Op ’n gegewe mal-naweek het ek en my broer Edu met ons baaisiekels ’n goeie 50 km afgetrap om daar te loop kuier.

Want oom Apie Ras se vlakteplaas was, ondanks en dalk ook te danke aan my tannie Bybs, ’n kinderhemel. Maar eintlik was dit die Vadersdaggedoente wat my dié onthoupad se loop laat vat het. Koffietyd op daai sukkelplaas het oom Apie se troos aangekom in ’n koppie, eintlik ’n kop, waarop die naam “Vader” prominent uitgespel was. Dit was ’n groot koppie en ek onthou hoe oom Apie Ras se gesiggie half weggeraak het agter die oplig-om-te-drinkdaaruit, en hoe koddig die bakoortjies wat agter die ronding van die reuse vaderkoppie uitgesteek het, vir my was.

Vaderkoppies vir koffie was sommer baie groter as die res. Dit was ’n trofee wat erkenning gegee het, op ’n daaglikse basis, aan die stomme mens wat desnoods die `hoof’ van die huis was. In die kombuis van die Wolmaransstad-plaas het die vaderkoppie op ’n rak neffens ’n identiese, maar kleiner `moederkoppie’ gestaan. En toe ek toentertyd in my onskuld vra hoekom my tant Bybs dan nie die moederkoppie gebruik nie, het sy trane gekry en my teen haar aansienlike ou lyf vasgetrek en gesê: “Aag, my kind. Ai tog, my kind.”

Ek het nie toe nie, maar nou verstaan ek.

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger