Die verhaal van Trompie die basterbrak is een van hartseer en van ‘n belofte, wat ná jare se geduldige wag, soos dit in elke goeie sprokie hoort, ‘n baie gelukkige einde opgelewer het.
Vier jaar gelede is Trompie aan Wet Nose, die pro-lewe dieresorg-sentrum op Vaalbank, oorgegee deur ‘n gesin wat weens omstandighede geen ander keuse gehad het nie. Dit was ‘n baie emosionele besluit vir die gesin.
Trompie met die serp van die skuiling waar hy vier jaar gewoon het
Een van die jonger gesinslede, wat gevra het dat ons nie haar naam moet noem nie, het haar hondemaatjie gereeld besoek. Sy het Trompie belowe dat, sodra sy haar studies voltooi het en ‘n ruim tuiste aan haar lewendige viervoetige vriend kan bied, sy hom sal kom haal.
Volgens Veronica van Greunen van Wet Nose is Trompie, ‘n herdershond-kruising, beslis ’n karakter-en-‘n-half. Soos sy naamgenoot uit Topsie Smit se jeugboeke, het Trompie gou gewys dat hy ondeund en vol lewenslus en streke was.
Trompie en sy eienaar ná vier jaar weer saam in hulle eie blyplek
Soos ‘n wafferse Houdini het hy gereeld snags wonderbaarlik uit sy hok ontsnap en dit geniet om kuierdraaie op die groot perseel te maak. Soggens het die personeel hulle hande vol gehad om hom weer op hok te kry, want Trompie het ‘n uitbundige speletjie daarvan gemaak en die wêreld vol gehardloop voor hy hom laat oortuig het om tot ruste te kom.
Deur die jare het Trompie baie ander honde sien aankom en ook gesien hoe baie weer deur mense aangeneem word en die skuiling verlaat. Hy het dan maar agtergebly en geduldig bly wag, want hy het geweet; aan hom is ‘n belofte gemaak.
Hierdie belofte het vier jaar geneem om vervul te word, maar toe dit onlangs gebeur dat sy ‘mens’ opdaag om hom te kom aanneem kon ‘n mens duidelik die liefde tussen die twee sien, sê Veronica.
Saam met sy nuwe viervoetige vriend, Buddha
Trompie het hom skielik soos ‘n soet, gehoorsame en baie gelukkige hond gedra wat geweet het sy langverwagte droom is bewaarheid. Die foto wat van die twee se hereniging geneem is, spreek boekdele oor onvoorwaardelike liefde en geluk. Hy het stertswaaiend met ‘n gesig wat geluk uitstraal by Wet Nose se kantore uitgestap om die res van sy lewe saam met sy beste en getroue vriend deur te bring.
Veronica sê ‘n mens wonder soms hoekom sommige diere so lank moet wag voor hulle aangeneem word, maar in Trompie se geval verstaan hulle presies hoekom. Sy het namens Wet Nose die eienaar bedank vir haar toewyding en oor sy by haar belofte gehou het.
Intussen het sy eienaar laat weet dat Trompie hom behoorlik tuisgemaak het in sy nuwe ‘beloofde land’. Hy weier om in sy eie bed in die sitkamer te slaap, en moet eenvoudig saam met hulle in die slaapkamer oornag.
Duidelik erg in sy noppies en baie gelukkig sit Trompie by sy mens in Wet Nose se kantoor en wag om na sy lank beloofde nuwe huis te vertrek
Hy het sy tuinbouvaardighede uitgestal deur ‘n reuse moddergat in die tuin te grawe en toe ewe trots sy modderspore die huis vol gelos. Trompie se eerste bad by sy nuwe tuiste het volgens sy mens die badkamer se vloer 10 cm diep onder water gelaat.
Elke middag wag hy klokslag op die regte tyd saam met sy nuwe hondemaatjie, Buddha, voor die tuinhekkie vir die man van die huis om tuis te kom. |