Die hof op Welbekend Print E-mail
News - Rubrieke
Saturday, 18 July 2009 01:37
Untitled Document

Martins is ’n mooi man. Hy het ’n sterk kakebeen soos my ma altyd sê. Maar Martins het moeilikheid by die huis en verlede jaar het sy lewensmaat sy been afgeskop in ’n bakleiery. Dis nou op die plasie waar ons bly. Hy was twee maande op krukke en kon nie werk nie.

Met rukke gaan dit beter met Martins en sy lewensmaat. Eendag in die goeie tyd het hy na my man, die regsgeleerde, gekom om ’n kontrak op te stel wat lui dat as daar weer drank en bakleiery in hulle lewens is, sy lewensmaat haarself van die plasie moet verwyder.

En toe gebeur die onvermydelike, soos ons weet in die lewe van geliefdes gebeur. Daar is ’n groot onenigheid en Martins kom vra dat die polisie moet uitkom. Die regsgeleerde op die plasie beveel aan dat Martins self na die polisiekantoor gaan en ’n klag lê want die regsgeleerde was ’n bietjie moeg van al die interne twis.

Die volgende wat ons hoor is dat Martins in hegtenis geneem is nadat hy die polisiediens eiehandig aangepak het. Volgens hom het hy so ver as Tiegerpoort se bottelstoor gekom – ’n plek bekend vir ’n gestruikeling.

Mede drinkebroers het aanbeveel dat hy nie meer polisiekantoor toe moet gaan nie. Hoe die polisie op die toneel gekom het, weet ek nie, maar Martins kan net onthou dat hulle hom in die vangwa wou laai en toe het hy die volgende oggend met ’n baie seer kop in die selle wakker geword.

Na borg betaal is, is ’n baie bedeesde Martins terug by die huis. Die lewensmaat is toe ’n bietjie weg, maar die liefde was nog steeds groot. Met sy verjaardag ’n paar weke later, het hy versoek dat ek nie die koek op sy verjaardag moet bak nie, want die geliefde kom eers Vrydag. Sy het glo gebel om te vra of hy lekker koek eet en om geluk te sê met sy verjaardag.

Die volgende scenario speel hom in Welbekend se hof af. Ek moet sê ek is baie beïndruk met Welbekend se hof, want almal op die plasie wat probleme het, soos geld wat gesteel word of selfone wat verdwyn, maak daar ’n draai en al die probleme word opgelos.

Alles is baie ordelik en almal het respek vir die hof. Ek is selfs deur die toehoorders in die agterbanke gemaan om nie te fluister nie. Een van ons werkers was ook daar met ’n-selfoon-wat-verdwyn-het probleem. Die regsgeleerde vind toe uit dat die aanklag teen Martins nogal ernstig is. Aanranding met die doel om ernstig te beseer sowel as verset teen arrestasie. Die saaklike regsgeleerde kry die aanklag af na aanranding met ’n plat hand, ’n term wat baie beskrywend is.

Die maatskaplike werker op die plasie word gevra om te getuig ter vonnisversagting. En toe begin die boer/advokaat en die boervrou/ maatskaplike werker ‘show’ soos my vriendin sê.

Ietwat onvanpas en oordadig in Welbekend se hof, maar ’n vriend in nood verdien net die beste. Op ’n stadium het die aanklaer vir die regsgeleerde gefluister, dis nou toe die maatskaplike werker getuienis aflê: “Is that your wife?”

Nou ek het die oggend toe ek wakker word nie geweet ek gaan vandag hof toe nie, maar die regsgeleerde het my herinner daaraan dat ek lank terug gesê het ek sal vir Martins in die hof getuig.

Dit was aanvanklik na Martins toegesluit is en ek geskok verduidelik het dat hy nooit aggressief is nie. Hy baklei met niemand nie. En as hy ietsie te veel gebruik het, het hy gewoonlik soos hulle sê “dronkverdriet” gekry.

Ek en Martins is Afrikaanssprekend, maar die res van die hof is nie. So die tolk vertaal toe van Engels na Martins se taal hoe “smart” ek dink hy is. Saggeaard, eerlik, betroubaar en nooit aggressief nie. Martins luister aandagtig.

Ek vertel ook dat hy baie mooi maniere het. Martins het ook sy eie styl. En trek mooi aan en is altyd beleefd. Ek vertel ook dat ek as maatskaplike werker beleef het dat Martins in ’n verhouding is waar hy fisies verniel word. Die regsgeleerde sê daar het ek toe “expert” getuienis gegee.

Op die ou end vra die aanklaer my watter vonnis ek sal oplê. Ek is erg onkant gevang. Nog nooit het iemand my oor ’n vonnis gevra nie. Behalwe die keer toe ek aanbeveel het dat iemand korrektiewe dienste vir ’n lang tyd moet besoek, ná ’n motordiefstal. Sy familie wou hê hy moet ’n rehabilitasie-sentrum vir alkoholverslawing besoek.

Maar ek verklaar dat ek dink Martins het genoeg gely en hy moet gaan vir verhoudingsterapie. Nou komende van ’n landelike gebied waar die vullis nie eers verwyder word nie en die paaie onbegaanbaar is, is dit regtig onmoontlik om die aanbevole behandeling te kry. Maar as jy nou “expert” advies gee, moet jy seker ook ’n “expert” straf aanbeveel.

Die regsgeleerde sê op dieselfde vraag dat ’n opgeskorte vonnis en ’n klein boete van pas sal wees. Dis toe so gedoen en Martins is toegesluit tot die papierwerk afgehandel is en die R100 boete betaal is. Martins is baie dankbaar en met sy laaste salaris verkryging het hy aan die boer gesê hy wil ietsie vir my koop. Hy meen te sê dis nie aldag dat iemand in Engels so mooi oor jou praat nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger