Hope skedels en karkasse in veld gelos om te verrot Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Reuse hope bene, skedels, vleis en vel van vee word op plase in die Welbekend-distrik afgelaai om te verrot. Ondanks die uitbreking van bek-en-klouseer verlede jaar en die landswye verbod wat in Desember op veeveilings geplaas is, het die owerheid dié praktyk op Welbekend nie summier verbied nie.


Dele van karkasse word op hope in die veld afgelaai om te verrot
Foto’s: Verskaf

Hylton Hofmeyr van Welbekend vertel dat sulke hope in Desember op sy buurplaas net bokant ‘n vleiland afgelaai is. Hy sê die mense wat dit daar aflaai wag vir die vleis en vel om te verrot sodat net die bene en skedels oorbly. Sodra die bene en skedels droog is, vervoer hulle dit na Vaalwater, waar hulle dit aan ‘n beenmeelfabriek verkoop.


Uitgedroogde skedels en bene word later deur dié vragmotor opgelaai

Hylton sê dat die mense die skedels en bene by slagpale dwarsoor ons gebied aankoop. By nadere ondersoek het hy kaartjies op die beeskoppe gekry wat die name van verskeie bekende slagpale in Die Bronberger se verspreidingsgebied dra.

Die Hofmeyr-gesin het aanvanklik nié van die praktyk geweet nie en het net agtergekom dat daar groot hoeveelhede vlieë en brommers op hulle plaas is. Toe Hylton en sy seuns die hope kry en die mense sien wat dit aflaai, het hulle die plaaslike Welbekend-polisiestasie gebel.


‘n Hoop kakebene, skedels en horings

‘n Polisiebeampte het uitgekom en het gepraat met die mense wat die hope daar afgelaai het. Hulle het aan hom gesê dat hulle toestemming daarvoor gekry het by ‘n plakker wat daar woon. Hylton vertel dat dié mense aggressief was en dat die konfrontasie met hulle amper baie lelik geraak het.

Hy wil kaptein Lucas Makuwa, stasiebevelvoerder van die Welbekend-polisiestasie, bedank dat hy gesorg het dat die situasie ontlont word, ten spyte van die feit dat kaptein Makuwa met verlof was.


‘n Hoop bene wat nog moet verrot

“Ek wag nou nog dat ander owerhede na my toe terugkom om aandag aan ons klagtes te gee,” sê Hylton. “Die Groen Skerpioene moet kom kyk na die impak wat die verrottingsproses op die vleiland het, maar bykans ‘n maand later skitter hulle steeds in hulle afwesigheid ná ek hulle herhaaldelik gebel het.”

Hy sê dat ‘n dokter in beheer van bek-en-klouseer in Polokwane ‘n karkas kom haal het, maar Hylton het nog niks verder van hom gehoor nie. In November verlede jaar het die minster van landbou, Thoko Didiza, gesê dat mense wat hulself skuldig maak aan die verdere verspreiding van bek-en-klouseer deur die diere te vervoer, op sivielregtelike en strafregtelike gronde vervolg kan word.


Een van die hope op Hylton se buurplaas

Die minister het gesê dat voertuie wat gebruik word om die diere na slagpale te vervoer ook deeglik skoongemaak en ontsmet moet word voor die slagpale se perseel verlaat word.

Die Tshwane Metropolisie het vir Hylton verduidelik dat die mense toestemming van grondeienaars moet hê om die hope af te laai, ‘n stortingspermit moet hê, ‘n vervoerpermit en ook ‘n impakstudie-verslag oor die plekke waar hulle die hope aflaai. Hulle het nie een van dié permitte gehad nie en die Metropolisie het hulle vir onwettige storting beboet.


Twee hope uitgedroogde bene en skedels

Hylton vertel dat die mense die hope op sy buurplaas gaan verwyder het, maar dat hulle dit bloot elders geskuif het. Hy het sulke hope op drie ander plekke in die Welbekend-omgewing gevind. Hy sê inwoners moet uitkyk daarvoor, want die hope word op versteekte plekke afgelaai. Hylton het ‘n paar sulke hope tussen die bome op die pad na Witpoort Laerskool gekry.

Inwoners wat sulke hope skedels en bene kry, kan Hylton bel by 083-997-5838.

 

© 2020 Die/The Bronberger