Vloed vernietig gebied se 115-jaar-oue watertoevoer PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Die waterprobleme in Cullinan, Refilwe, Zonderwater Gevangenis en Rayton kan nog die hele jaar duur voor langtermyn-oplossings voltooi is.

Die waterpypleiding, wat dié gebied al 115 jaar van water voorsien, het op 10 Desember saam met die betonondersteuningstruktuur en sy kleppe in ‘n vloed by die Wilgedam weggespoel.


Die betonondersteuningstruktuur en pypleiding oor die Wilgedam voor die vloede
Foto: Verskaf

Water word van die Wilgedam, wat ongeveer 35 km vanaf Cullinan is, na Magalies Watersuiweringsaanleg op Cullinan gepomp en van daar na dorpe in die gebied versprei. Krane in dié gebied was binne ‘n paar dae ná die vloedskade kurkdroog en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het berig dat daar nog nooit ‘n ramp van só ‘n omvang in die gebied afgespeel het nie.


Die betonondersteuningstruktuur is op 10 Desember vernietig
Foto: Verskaf

Magalies Water het die hulp van die Tshwane Metro Munisipaliteit, Rand Water, Cullinan Diamantmyn (die eienaars van die pyp-infrastruktuur), Gauteng provinsie en die nasionale water en sanitasie-departement ingeroep. Daar is aan ‘n tydelike oplossing begin werk en watertenks is vanaf 13 Desember op strategiese plekke in die dorpies geplaas. Hulle is deur tenktrokke, wat water by die Rand Water se waterpypleiding getap het, vol gehou.


Twee vroue destyds in ‘n roeibootjie op die Wilgedam naby die betonondersteuningstruktuur
en pypleiding
Foto: Cullinan Myn-argiewe

Inwoners moes daagliks vir ure in lang toue by die tenks staan om waterhouers vol te tap en dit het gereeld gebeur dat die tenks leeg was voor die laaste mense in die tou kon water kry.

Terwyl inwoners van Cullinan in dié tenktoue gewag het, moes hulle die stof van nuwe grondstortings by die myn se oop put hanteer. Lees die berig op bl 15.

Daar is aanvanklik in Desember gesê dat ‘n tydelike wateroplossing binne agt weke in plek sou wees.

Teen die einde van Desember het ‘n tydelike pompstasie water na Magalies Water begin pomp en sekere van die laagliggende gebiede rondom Cullinan het water in hulle krane begin sien. Hulle is egter gewaarsku dat Magalies Water besig was om die pype te spoel en dat die water nie drinkbaar was nie.

Op 3 Januarie het die GPF inwoners laat weet dat gedeeltelike toevoer van drinkbare water herstel is, maar dat dit sporadies sal wees met lae druk. Die tydelike pompe kan slegs ‘n beperkte hoeveelheid water verskaf en ‘n beurtwaterproses is voorgestel.


Robert Atherton, ‘n destydse ingenieur by Wilgerivier
Foto: Cullinan Myn-argiewe

Op 4 Januarie is ‘n groot lekkasie op ‘n pyp vanaf Wilgedam opgespoor en watertoevoer moes toegemaak word om die lek te herstel. Die gebied was weer vir ‘n paar dae sonder water. Water is op 6 Januarie begin pomp, maar dit het ‘n hele tyd geneem om die reservoirs vol te kry.

Dié sporadiese toevoer gaan glo ‘n daaglikse probleem bly tot die permanente pypleiding voltooi is. Op 13 Januarie het die GPF laat weet dat inwoners daarop voorbereid moet wees dat die krane weer gaan opdroog. Magalies Water was besig om te werk aan ‘n meer stabiele watervoorsiening, maar geen datums kon gegee word vir wanneer so iets voltooi sou wees nie.

Die GPF het inwoners aangeraai om in watertenks te belê om self oor die volgende 12 maande water op te gaar.


RD Smith, wat ook by Wilgerivier gewerk het
Foto: Joyce Sterling

Wilgedam
Inwoners het gewonder hoekom die pompstasie aan die oorkant van die Wilgedam gebou is sodat die betonondersteuningstruktuur, wat weggespoel het, bo-oor die dam gebou moes word. Die antwoord lê in die geskiedenis van die waterprojek.

Volgens Cullinan-historikus, John Lincoln, se navorsing het Premier Diamantmyn in 1905 ‘n ingenieur, D Gerrand, aangestel om ‘n toepaslike bron van water vir die myn te soek. Hy het aanbeveel dat die myn genoeg water sal kry as ‘n keerwal by die samevloei van die Wilgerivier en Bronkhorstspruit gebou word.


Die stoomketels wat van Glenfield en Kennedy aangekoop is
Foto: Cullinan Myn-argiewe

Die myn het die plase Spitskop en Zuikerboschfontein aangekoop en toestemming vir die skema is verkry. Op 16 Januarie 1907 het D Gerrand in ‘n verslag aan die myn se voorsitter en direkteure geskryf dat die konstruksie ongeveer ‘n myl vanaf die Wilgerivierstasie op die Pretoria-Delagoabaai spoorlyn gebou is. Dié spoorlyn moes die steenkool aan die stoomenjins by die pompstasie verskaf.

D Gerrand het geskryf dat ‘n betonkeerwal van 900 voet lank omtrent 1 000 treë onder die samevloei van die Wilgerivier en Bronkhorstspruit gebou is en dat die diepte van die water by die uitlaatsluise 30 voet was. Die keerwal het ‘n reservoir in die Wilgerivier gevorm met ‘n kapasiteit van 150 miljoen gellings.


‘n Blik op die keerwal wat destyds in die Wilgerivier gebou is
Foto: Mark Smith

Die pompstasie is naby die rand van die reservoir gebou, ongeveer ‘n myl bo die keerwal, waar die water 28 voet diep was. Daar was vier stoomenjins wat pompe aangedryf het. Elke enjin kon ‘n miljoen gellings water per dag onder ‘n druk van 330 pond lewer.

Dié enjins is deur mnre Glenfield en Kennedy, Ingenieurs, Kilmarnock vervaardig. Drie Lancashire stoomketels is aanvanklik opgerig en later was daar vyf.


Die pompstasie wat naby die rand van die reservoir gebou is, ongeveer ‘n myl bo die keerwal
Foto: Cullinan Myn-argiewe

‘n Syspoor van 1 500 treë is vanaf Wilgerivierstasie op die Pretoria-Delagoabaai spoorlyn gebou sodat die steenkool weens swaartekrag maklik in waentjies na die pompstasie af kon loop. Hulle is met osse terug gesleep na die hoof-spoorlyn.

Die stoomenjins het tot 1962, toe hulle met elektriese pompe vervang is, water met ‘n pypleiding van 22,75 myl na die diamantmyn op Cullinan gepomp.

 

© 2019 Die/The Bronberger