Vuurvinkies sing graag saam PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Daar is min voëltjies wat net een maat kies en lewenslank daarby hou. Dalk net so min mannetjies en vroutjies wat bykans alles saam doen – van die liedjie wat hulle saam sing tot die kleintjies wat hulle saam uitbroei en voer.

Die Kaapse vuurvinkie, Lagonosticta rubricata, is so ‘n voëltjie. Moenie dink dat hulle net in die Kaap voorkom nie. Hulle is oral in Afrika en het ’n geskatte wêreldwye voorkoms van
5,400,000 km².

Dié is ’n algemene standvoël van ruigtes in savanne, boomveld, rivierstruikgewas en voorstede. Hy is 10–11 cm groot en weeg agt tot 13 gram. Dit beteken dat hy selfs nog kleiner as die sysies is en soek gereeld saam met hulle kos. Hulle voer gewoonlik in klein groepies op die grond en vreet meestal saad, afgewissel met insekte.


Die manlike Kaapse vuurvinkie
Foto’s: Wikipedia

Dié voëltjies het ‘n duidelik grys kroon en agternek met ‘n donkerder rug en vlerke. Die mannetjie se gesig en onderste dele is dieprooi wat oorgaan na swart op die pens en onderstert. Die wyfie is onder ‘n pienkerige bruin. Albei geslagte het wit kolle op die sye. Onvolwassenes lyk soos die wyfie, maar is oraloor minder pienk en meer bruin.

Die liedjie wat die mannetjie en wyfie sing bestaan uit verskeie note wat lukraak herhaal word en met piepende fluite, draaie en iets wat amper as ‘n gejodel beskryf kan word, afgewissel word.
Hulle gewone roep is ‘n vinnige ‘trrt-trrt-trrt-trrt’ geklik wat klink soos ‘n viskatrol wanneer die lyn uitgegooi word en ’n ‘whienk-whienk-whienk’-geluid.


Die wyfie

Die mannetjie bou die nes, wat ‘n ronde struktuur met ‘n ingang aan die kant is. Die buitenste dop bestaan uit lang, droë grashalms en die binnekant is met sagte grasse en partykeer selfs met vere uitgevoer. Die nessie word diep in lang, dik gras gemaak of in gras wat tussen boomstompe groei of tussen takke wat van die boom afgeval het.

Die piek broeiseisoen is tussen Januarie en April en twee tot vyf eiers word gelê. Die ouerpaar broei saam en die kuikens word na omtrent 12 dae uitgebroei. Altwee ouers voer die kuikens, wat die nes ná twee tot drie weke verlaat. Hulle word 10 dae daarna nog deur die ouers gevoer.

Die Kaapse vuurvinkie is ’n broeigasheer vir die gewone blouvinkie.

 

© 2019 Die/The Bronberger