Silver Lakes se Michelle van Staden het onlangs haar
Afrikaanse debuut-album uitgebring. Sy het begin naam
maak met optredes wat strek van ’n musiekblyspel en opera tot
kontemporêre gala geleenthede, huldeblyke en as lid van die
Fantastic 4. Lesers sal haar dalk herken as Estie, die klein
rolletjie wat sy verlede jaar in 7de Laan gespeel het om die
stomme Marko te verlei.
 Michelle van Staden
‘Met die Tyd’ is die naam van
Michelle van Staden se
Afrikaanse debuut-album. Dié
album is ’n versameling verwerkings
van Afrikaanse luistermusiek van
twee of drie dekades gelede wat
deur die Maroela musiekspan opgetof
is.
Die liedjies wat Michelle uitgesoek
het was dit waarna haar gesin altyd
geluister het as hulle op vakansie
gegaan het. “Ek was nog baie klein,
maar het altyd geweet dat ek eendag
hierdie liedjies self gaan opneem,”
sê Michelle.
Die liedjies waarna Michelle verwys
is ou Afrikaanse goues soos ‘Ek
lewe’, ‘Groen koringlande’, en ‘Ek
verlang na jou’. Die album bevat ook
twee van Michelle se eie liedjies, ‘Vir
’n Wyle’ en die titelsnit ‘Met die
tyd’.
Michelle het ‘Met die tyd’ vir haar
ouma geskryf wat in 1994 aan
kanker oorlede is en sy sê sy weet
sommer dat haar ouma dit hoor en
weet dat dit vir haar bedoel is.
“In my lewe was ek nog nooit so
trots op ’n voltooide projek soos op
dié een nie,” sê Michelle wat in
Oktober 2006 haar Engelse debuutalbum,
‘To be real’, uitgebring het.
Dié album het die elemente van
klassieke en ligte musiek gekombineer
met inspirasie van kunstenaars
soos Sarah Brightmann en Josh Groban.
Dit sluit verwerkings
in van die bekende
‘Take my breath
away’, ‘Over the rainbow’,
en ‘One day I’ll fly
away’.
Michelle, as die karakter Estie, verlei vir
Marko in 7de Laan |
Moeilik
Volgens Michelle is dit
glad nie maklik om jou
voet in die deur te kry in
die musiekbedryf nie. Sy
sê dat al het jy al die talent
op aarde en gelaatstrekke
soos Brad Pitt of
Angelina Jolie, sal dit
jou nerens bring sonder
harde werk nie.
“Hare op die tande,
uithou- en aanhouvermoë
en natuurlik ’n
betreklike dik vel mag
moontlik ’n ou gelukkie
na jou kant toe bring,”
sê sy.
En natuurlik help haar
ouers se ondersteuning.
Michelle en haar ouers
bly in Silver Lakes en sy sê dat hulle gesin baie familie-vas is
en goed oor die weg kom. Sy het ’n
jonger sus, Carike, wat in Johannesburg
woon en ’n jonger boet,
Dewald, wat saam met sy vrou,
Amanda, gaan nesskrop het.
Michelle sê haar ma is haar beste
vriendin en wanneer sy nie klasdraf
nie, “klim ons in die motor en ry
Pretoria plat opsoek na mooi goedjies
vir ons en die huis. Dis my
gunsteling tydverdryf; om saam my
ma in die Jakarandastad
rond te rits.”
 Michelle saam met Pieter Koen, Danie Niehaus en Irene van Wyk as die
Fantastic 4
Passie
Michelle studeer joernalistiek
by Tuks, waar sy ook
haar B.Mus. graad, Uitvoerende
Kuns, voltooi het. Sy
sê dat sy haar passie vir
musiek en die kunste ontdek
het toe sy op laer- en
hoërskool deelgeneem het
aan operettes, revues en
konserte. Reeds op die
ouderdom van 16, het sy
besluit om haarself toe te
spits op ’n sangloopbaan
en het begin met formele
sangopleiding.
Sy is in 2001 Tuks toe waar sy meestersklasse
geloop het by bekende
kunstenaars, soos Mimi Coertse,
Kobie van Rensburg, Svein Bjørkøy,
Cladio Danuse en Szusa Alföndi. Sy
het ook sangonderrig van Ina Snyman
en Prof Werner Nel ontvang.
In 2003 het sy die rol van Bastienne
in die Mozart-opera ‘Bastien und
Bastienne’ gesing onder leiding van
Prof Eric Rycroft met regie deur
Mimi Coertse. In 2004 het Michelle
die rol van Pamina in die Mozartopera,
‘Der Zauberflöte’, gesing,
weer onder leiding van Prof Eric
Rycroft met regie deur Dr Mart
Munrou.
In haar studiejare het Michelle ook
die geleentheid gekry om die verhoog
te deel met ligtemusiek kunstenaars
soos Dewald van Solms,
Hanelli Stapela, Liz Lombaardt en
André Schwartz.
 Michelle in die rol van Bastienne
in die opera ?Bastien und
Bastienne? met regie deur Mimi
Coertse
Optredes
Ná sy haar graad verwerf het, sit
Michelle in 2005 vyf maande eenkant
om die rol van ’n non te vertolk
in die musiekblyspel, ‘The Sound of
Music’, wat by die Staatsteater en
Sandt du Plessis se ouditoriums op
die planke gebring is.
Michelle was in 2007, saam met
Pieter Koen, Danie Niehaus en Irene
van Wyk, lid van die Music Profileproduksie,
‘Fantastic 4’, wat Suid-
Afrika en omliggende lande plat
getoer het.
Dit was ook die jaar waar sy deelgeneem
het aan die ‘6de Afrikaanse
Klipdrif Musiekfees’ en in duet
opgetree het saam met Gerrie Pretorius
by Carnival City in ‘Ek sing vir
jou Bles’.
Michelle was deel van die vertoning,
‘Legends of the Sun’, ’n huldeblyk
aan sterre van gister soos Koos du
Plessis, Kris Kristofferson, Anneli
van Rooyen, Elvis, Andrew Lloyd
Webber en Sias Reynecke.
 Michelle se Afrikaanse debuut-album, ?Met die tyd?
Bronberg
Tussen studies en optredes, maak
Michelle gereeld tyd om in die Bronberg-
omgewing te kuier. “My gunsteling
uithangplekke in die Bronberg
is Tuscany’s waar ek myself
kort-kort amper dood eet, die roosplaas
Soleil / Ludwig’s Cut Roses en
dan al die pragtige kwekerye langs
Lynnwoodweg.”
Sy geniet dit om by ’n mooi troue by
Farm Inn vir die bruidspaar te sing
en om by funksies in Silver Lakes se
klubhuis op te tree. En natuurlik, sê
Michelle, is sy mal oor ons kontrei
se eie tydskrif.
“Sodra my pa Die Bronberger op
ons koffietafel neersit, blaai ek vinnig
eerste na ‘Toeka se dae’. Ou
dinge fassineer my. Het nog altyd.
Selfs my klerekas dateer uit vorige
era’s en ek probeer altyd iets nuuts
met iets ouds kombineer. Dit hou
die lewe interessant.” |