Grondbesetters woel naby Silver Lakes PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Sedert die begin van Januarie is groepe grondbesetters, wat sê hulle is van die EFF, op verskeie terreine naby Silver Lakes en in die Boschkop-gebied doenig.

Volgens Sakeliga, ‘n organisasie wat strewe na ‘n sake-omgewing waar volhoubare sukses gehandhaaf kan word, beset hulle grond van ontwikkelaars onwettig en probeer ‘erwe’ op die eiendomme skoonmaak. Sommige van die toekomstige nedersettings het reeds name gekry, soos ‘Winnie Mandela View Uitbreiding Drie’.

Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux, sê dat regstappe en die polisie se optrede die proses tot dusver grootliks gestuit het.

Piet waarsku dat grondbesetters verkenningsprosedures volg om onbewaakte grond te identifiseer. Daarna toets hulle die reaksie van wetstoepassers en grondeienaars deur te begin om materiaal en plante te verwyder.


“EFF EXT 3 Winnie Mandela View”, staan op dié struktuur
Foto: Sakeliga

Dit word opgevolg met die uitlê van ‘erwe’ vir besetting. As daar geen reaksie van wetstoepassingsowerhede of eienaars is nie, begin hulle om permanente strukture op te rig. Wanneer daar wel reaksie is, trek hulle vinnig na ‘n ander terrein, waar hulle boumateriaal gereed hou.

Piet sê as grondbesetters eers permanente strukture opgerig het en hulle op ‘n stuk grond gevestig het, dit geweldig ingewikkeld en duur word om hulle daar weg te kry. Hy maan eienaars om hulle grond deurlopend dop te hou.

Lede van die publiek word gevra om grondeienaars te laat weet wanneer hulle iets sien wat soos onwettige grondbesetting lyk.

Vir meer inligting, besoek www.landgrab911.co.za, waar Sakeliga stap-vir-stap instruksies gee hoe om grondgryp te verhoed, vir toegang tot bekostigbare regshulp en inligting wat die hoof-landmeter-generaal hou, soos ‘n eiendom se afmetings en GPS-koördinate.

 

© 2019 Die/The Bronberger