Cullinan se gat word al hoe groter PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Grondstortings by die Cullinan Diamantmyn se oop put het van die middel van Desember tot die middel van Januarie voortgeduur en het verstikkende stofwolke oor die omliggende gebied laat hang.

Die myn het in Desember ‘n kennisgewing uitgestuur dat ‘n toename in die verplasing van die suidelike put-wand vanaf 12 Desember waargeneem is. Dié deel van die oop put se wand is gedestabiliseer en het begin sak ná die drie miljoen ton grondstorting van 28 Oktober verlede jaar.

Inwoners is in die kennisgewing gewaarsku dat die put se moniteringstelsel aangedui het dat ‘n nuwe grondstorting van verskeie miljoen ton grond onafwendbaar was. Dié grondstortings het op
19 Desember begin en die laaste groot storting voor Die Bronberger se saktyd was op 11 Januarie.

Gert Klopper, woordvoerder vir Petra Diamonds, het gesê dat dit tegnies alles deel van een insident was, al het dit in fases gebeur.

Die sywand instorting van 19 Desember was aan die suid-westelike kant van die oop put, weg van die dorp, en het onreëlmatige en onstabiele sleutelblokke rondom die kruin en wand van die put agtergelaat.

Tussen 19 en 28 Desember was daar kleinskaalse rotsstortings langs die kruin toe onstabiele rotse losgekom en in die put geval het. In die vroeë oggendure van 27 Desember was daar ‘n sywand-skalering aan die suid-westelike wand, waar ongeveer 15 200 ton grond in die put afgestort het.


Bewegings rondom die Cullinan-myn se putwand vanaf 28 Oktober 2019 tot 11 Januarie 2020. Die waarskuwingsvlak van die kleure: Groen is normaal; geel is versigtig; oranje is liniêre vervorming; en rooi is versnelde vervorming
Bron: Petra Diamonds

Op 11 Januarie het ‘n wig in die oostelike hoek van die put ineengestort, waar ongeveer 135 000 ton in die put afgestort het. Dié storting word verbind met ‘n onstabiele wig wat deur die kruising van twee foute ontstaan het.  

Die wig is ná grondstortings in 2015, wat na die sluiting van die R513-pad gelei het, gevorm. Dit het bestaan uit ‘n verlengde struktuur vanaf die put-bodem tot net onder die -kruin. Die myn berig dat dié wig se ineenstorting op 11 Januarie binne-in die put gebeur het en dat die put se omtrek nie aan daardie kant verander het nie. Volgens die myn hou dit geen gevaar vir die dorp in nie.

Mynwerk in die oop put is 50 jaar gelede gestaak en alle mynwerk is deesdae ondergronds. Die myn het verskeie moniteringstelsels wat beweging in die put meet, asook seismiese- en stof-moniteringstelsels in die dorp.

“Dit is deur dié monitering wat ons die komende grondstorting in Desember kon voorspel en met die inwoners gedeel het, alhoewel daar geen gevaar vir die gemeenskap was nie,” sê Gert.

Gert het gesê dat dié stortings sal aanhou tot die oop put stabiliseer, en dat dit moeilik is om te sê wanneer dit sal wees. Behalwe om te monitor en vroeë waarskuwing te probeer gee, is daar ook nie regtig veel wat daaraan gedoen kan word nie, het hy gesê.

In die openbare vergadering wat verlede jaar Oktober gehou is, het die myn gesê dat daar geen planne is om die oop put te rehabiliteer nie.

Vir verdere inligting, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger