Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
Die heel belangrikste ete van
die dag, het my oorle ma altyd
gesê, is ontbyt. En vir my is ’n
ordentlike ontbyt ook seker die heel
lekkerste ete van die dag – behalwe
miskien vir ’n goeie middagete, of
dalk ’n aandete. Maar hoe dit ook al
sy, dis vir brekfis wat ons een onlangse
Saterdag afsit na De Haven
Oost toe en na een van die aangenaamste
eet- en vroegdag kuierverrassings
in ’n lang tyd toe.
Die ingang na de Haven Oost
De Haven Oost is ’n plotplek neffens
die ou Bronkhorstspruitpad, vlak
waar dit die Rayton/Cullinanpad
kruis. Dis ’n familiesaak wat duidelik
met groot ywer, liefde en toewyding
deur ’n familie met goeie
smaak en ’n fyn gevoel vir detail
saamgesit is.
Dit spog met ’n onthaalplek (‘venue’
is blykbaar nou aanvaarbare Afrikaans),
oornagplek, ’n spa (wat sou
die Ingelse woord tog nou daarvoor
wees?), ’n troukapel, ’n stylvolle restourant
en ’n kroeg, ’n kwekery en
’n uitgebreide familie vol plattelandse
gasvryheid en met verdere
planne vir dinge soos ’n diereplaas,
’n kinderhemel en nog wat.
Die oornagplekke is aards, dog luuks
Maar dis vir ontbyt wat ons op dié
sonnige Saterdagoggend opdaag.
Nogal gebespreek en als het ons,
soos wat hulle vra in hulle Bronberger-
advertensie. Met die indraaislag
deur die indrukwekkende bliktoringingang
dag ek dadelik ek verstaan
nou die besprekingsversoek. Want
dit lyk soos nagmaal op Deelkraal
soos die baie bakkies en paar karre
geparkeer staan. Maar dit blyk toe
dat daar juis dié oggend ’n boerevergadering
in die venue is.
Dit is vir my dadelik opvallend dat
boerevergaderings
in ’n paar
opsigte nogal
kwaai verander
het sedert ek
laas gekyk het.
Boere dra nie meer kakieklere en
hoedens nie. Nee, dis nou denimbroeke,
bofbalkepse en windjakkers.
En, glo dit as jy wil, baie van
die boere het hulle vrouens saamgebring.
Voor jy nou op jou perdjie
vlieg, mevrou, ek dink dis nogal ’n
rein verandering. Die vrou-saambring,
bedoel ek nou. Buitendien,
gemeet aan Metgesel se reaksie, is
De Haven Oost ’n plek waarheen ’n
vrou graag saamgebring wil wees.
Gerieflik en oorspronklik
O ja, die ontbyt. Dogter ontvang ons
en wys ons op drie opsies van waar
ons kan plaasneem om vir die brekfis
te loop aansit. Dis lekker sonnig
buite, maar ’n gawe boervrou wat
saam met ’n groepie daar sit en
boeretroos nuttig, waarsku dat die
betonbankies nog ongemaklik koud
is ná die winternag. Ons kies die
baie gerieflike binnevertrek met die
mooi oudhede en diep rusbanke en
interessante ou foto’s teen die
mure. Effe te vroeg, dink ek, om in
die ruim eetvertrek neffens die
kroeg te gaan sit.
Ons kry die dik en kunstige spyskaarte
saam met ryk en lekker
koffie in billike stomende bekers en
ons lees en ons lees, want daar is
baie om te lees en om oor te wonder
en om oor te besluit.
Soos daar met die uitleg, bou, meubilering
en dekor van die plek duidelik
diep en oorspronklike dinkwerk
deur die familie ingesit is, is dit ook
met die spyse op die kaart gedoen.
Alles wat jy vir ontbyt sou verwag is
daar, maar dit is deurvleg met ’n
oorspronklike andersgeit.
Die kroeg en binne kuierplek
Ontbytgeregte soos ’n plaatkoekietoring
met gegeurde maalvleis, eier
en spek, kaas en nog, teen R35, of
’n gevulde skon met roereier, spek
en bedek met ’n roomkaassous
bedien saam met ’n groen slaai, vir
’n skamele R25, trek my aandag. ’n
Wye keuse van vulsels vir ’n R28 se
omelet, ’n allemintige allegaartjie
met ’n papsambaal wat hulle “Die
ou grote” noem en ’n gesondheidsontbyt
is onder meer beskikbaar.
Metgesel besluit op die kleiner
weergawe van ‘die ou grote’, spesiaal
vir dames, en die papsambaal
wat daarmee saamkom het haar
gaande. Sy dink ook dis ’n baie
goeie plan om tjips saam met brekfis
te bedien. Seun, Neville, is die
sjef en hy het voor die bestelling
vriendelik ’n paar dinge oor die
geregte kom verduidelik. Langs die
pad het ons ook met ma, pa, ouma,
tannie en nog gawe De-Haven-Oostfamilielede
kennis gemaak.
Pannetjie-ontbyt
Die ontbyt wat ek geniet het, noem
hulle ’n pannetjie-ontbyt. Onder in
die pannetjie is ’n baie smaaklike
sheba van tamatie en ui. Dis gelaai
met ’n goeie boerewors wat net reg
en nie doodgebraai is nie, spek
(bacon in Afrikaans) wat bros gebraai
is en twee perfekte gebakte
eiers. Jy kry genoeg roosterbrood,
gerasperde kaas en konfyt daarby.
Ons keuses kos R35 elk.
Jy kan op Sondae ’n potjiekos buffet
teen net R85 by De Haven Oost
geniet en – o, gaats daar raak my
toegelate ruimte op. Bel hulle by
012-736-2246, en gaan kyk self. Jy
sal nie spyt wees nie. |