Dit is die jaar 2020. Voor jou, liewe leser, het jy ‘n nuwe jaar en ‘n splinternuwe dekade se heel eerste uitgawe van Die Bronberger.
In die afgelope bykans 18 jaar het die Bronnie ‘n onlosmaakbare deel van ons eiesoortige gemeenskap geword. En ons wil glo ‘n belangrike deel daarvan ook. Soos een gewaardeerde leser dit in ‘n briefie hiernaas stel: “Die Bronnie is verslawend.”
Dit is met nederige dankbaarheid dat ons kan terugkyk op ‘n lang pad (eintlik baie lank vir ‘n onafhanklike publikasie) en ons kan met geesdrif in vertroue uitsien na die pad vorentoe – en dit kan ons net doen omdat ons van meet af aan geseën is met derduisende uitsonderlike lesers van ‘n merkwaardige gebied en met wonderlike adverteerders.
Veral is dit die wedersydse ondersteuning tussen ons lesers en adverteerders en julle gesamentlike en volhardende meelewing met en bydrae tot die Bronnie, wat dit vir ons moontlik maak om met positiewe voornemens uit te sien na die nuwe dekade. Dankie.
Ons vertrou dat dit in die nuwe jaar ook ‘n voortslepende voorneme van die Bronnie se lesers sal wees om (soos in die verlede) ons adverteerders met oorgawe te ondersteun, en dat adverteerders die waarde van dié wilsbesluit sal besef en in toenemende mate tot almal se wedersydse voordeel hieruit sal munt slaan.
Ons eie voorneme en bede vir die nuwe jaar is om alles binne ons vermoë te kan doen om maandeliks ‘n uitgawe van Die Bronberger die lig te laat sien wat van waarde en in belang van die gemeenskap sal wees.
Dit bly ook in dié jaar ons voorneme om die klem op die landelike en voorstedelike leefwyse van ons lesers te laat val. Ons volhard in ons beleidsbesluit om ons nie op te hou met die goggas van partypolitiek en ander onsmaaklikhede nie. Die voorneme en doelstelling is ‘n lekkerlees-tydskrif met inhoud en inligting wat byval vind en meelewing aanmoedig.
Ons strewe bly steeds om ‘n publikasie van gehalte uit te gee wat dit ten doel het om na die belange van ons gebied se inwoners om te sien en in hulle lief en leed te deel. Die voorneme is onder meer ook om steeds tot die beskerming van ons kontrei se diverse en mooi, dog dikwels bedreigde, omgewing en natuurlewe op te tree.
Ons verwelkom 2020 met dankbaarheid en met die vaste voorneme en geloof dat nog ‘n positiewe jaar vir die Bronnie, sy lesersvriende en sy adverteerders te wagte kan wees. Hou vas – hier gaan ons al weer! |