Van Dopperkappies en donderweer tot ‘duur’ vleis in 1919 Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 10 December 2019 08:12
Untitled Document

Angie Kleijn

Hoe het Suid-Afrikaners 100 jaar gelede begin gereed maak vir Kersfees? Desember 1919 was ‘n moeilike tyd. Die Groot Griep het ‘n gedeelte van die bevolking uitgewis; daar was armoede, onmin en broedertwis oor verdeelde lojaliteite ná die Eerste Wêreldoorlog; en ‘n deel van die land was in rou oor Eerste Minister Louis Botha se afsterwe.

Dr Frans Vredenrijk (Fritz) Engelenburg, wat in 1889 uit Holland in Pretoria aangekom het en daardie selfde jaar as hoofredakteur van ‘De Volksstem’ aangestel is, was een van dié in rou.


Frits Engelenburg se huis in Pretoria is op 28 Desember 1919 “door bliksem beskadigd”
Bron: Fotoversameling van Joop de Vos, Zevenbergen

Die Kerstyd van 1919 was vir hom hartseer omdat hy in die verlede soveel Kerstye saam met Louis Botha en sy vrou Annie op die plaas Rusthof of by Groote Schuur deurgebring het. Hy het dié Kerstyd by sy huis in Pretoria gebly en op 28 Desember 1919 het hy ’n aantekening in sy dagboek gemaak: “Huis door bliksem beskadigd – 8 pm.”

Daar is baie geskryf oor die erge storms wat daardie Desember in Pretoria gewoed het. Tog het dit nie die huweliksbevestiging van die bekende argitek, Gerard Moerdijk, se sussie Corrie in die wiele gery nie. Cornelia Adriana (Corrie) Moerdijk is die dag voor Kersfees met die akademikus en kultuurleier, prof Dirk van Rooy, getroud. Haar pa was die bekende Transvaalse skoolinspekteur, Jan Leendert Moerdijk.


Dirk en Corrie van Rooy is op 24 Desember 1919 getroud
Bron: My Dopperdagboek

Daardie Desember-vakansie het nie net wittebroodspaartjies nie, maar ‘n hele klomp ander Pretorianers see toe gegaan. As hulle Muizenberg toe gegaan het, sou hulle vir Heather Price in aksie gesien het.

Die eerste opgetekende geval in Suid-Afrika van branderplankryers wat regop staan was in Muizenberg in 1919. Heather Price, ‘n vrou van Kaapstad, het vriende gemaak met twee Amerikaanse seesoldate wie se skip by die Kaapstadse hawe aangedoen het op pad Amerika toe ná die Eerste Wêreldoorlog.

Dié twee soldate het soliede hout Hawaise styl branderplanke gehad en het Heather geleer om die branders regop op dié gedoentes te ry. ‘n Foto van Heather in die vlak golwe is vandag nog te siene.


Millars in Kerkstraat, Pretoria se 1919 modes
Bron: Die Boerevrou

Stoetramme
Die beste bronne van dinge wat in Desember 1919 gebeur het is nie die geskiedenisboeke nie, maar die tydskrifte wat daardie maand verskyn het.  ‘Die Landbouw-weekblad’ van 24 Desember 1919 noem stoetramme ‘duur’ teen £5 elk, want skape het teen gemiddeld 12 sjielings en ‘n sikspens elk verhandel. Vleis is beskryf as só duur “dat ‘n mens dit byna nie kan betaal nie”.

Daarom het meer mense hoenders geëet. Om ‘n hoender slaggereed te kry vir feesdae is aanbeveel dat die slaghoender net drie weke lank vet gevoer moet word. Jy moes die hoenders “so nou en dan vang en bevoel” om te sien of hulle swaarder word.


‘n Advertensie uit die ‘National Geographic Magazine’ van Desember 1919 wys hoe General Motors se trokkies op die melkery-afleweringsroete lyk

As daar miskien ‘n hoender is wat lig bly, kan hy gerus dadelik in die pot beland omdat hy nooit swaarder sal word nie. “Moenie probeer om die pieperige hoenders vet te maak nie, hulle sal net pla om siek te word,” lui die berig, ‘Slaggoed vir die feesdae’.

Plase in Suidwes-Afrika was in 1919 glo teen twee en drie sjielings per morg te koop.


Heather Price op die branderplank; Muizenberg 1919
Bron: Muizenberg info

Vaaljan
In ‘Die Landbouw-weekblad’ van 24 Desember 1919 skryf Vaaljan oor kwessies soos ‘werkvolk’ want “langsamerhand gaat die sukses van landbou sodoende afhang van ‘n heeltemal kleine maar skerp geoefende aantal werkers”. Vaaljan sluit die berig af deur te wonder of die opkomende geslag boere deur die regering of private mense opgelei gaan word.


In die Desember-uitgawe van 1919 het M.E.R. ‘n artikel oor kappies geskryf

In dié ou tydskrif is nog ‘n staatmaker van die tyd beskryf, naamlik brandewyn: “Een Dokters Rekommendasie, Paarl Rock Brandewijn, so goed as Franse.” Dit het glo só ‘n staatmaker geword dat die Nederlandsche Vereniging ‘n ‘De Goede Raadgever Almanak voor 1919’ uitgebring het vir die “afschaffing van alcoholhoudende dranken”.


‘Farming Opportunities in the Union of South Africa (1919)’

Die Departement van Landbou het ook ‘n boek, ‘Farming Opportunities in the Union of South Africa (1919)’ uitgebring om buitelandse beleggers te lok. Die boek is in 1919 in Johannesburg en London deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawe-administrasie gepubliseer.


‘Die Landbouw-weekblad’ van 24 Desember 1919

‘De Goede Raadgever Almanak voor 1919’

Boerevrou
In ‘Die Boerevrou’ van Desember 1919 het M.E.R. ‘n artikel oor kappies geskryf met sketse van prente en patrone wat lesers ingestuur het. Dié stuk is geskryf omdat daar kritiek was op ‘Die Boerevrou’ se voorblad-beeldjie se kappie. M.E.R. het verduidelik watter verskillende soorte kappies die ou mense gedra het en wanneer elke soort gedra is.


Dié McCall’s tydskrif van Desember 1919 adverteer naaldwerkpatrone vir nuwe modes in Januarie
Bron: Etsy

’n Mev Uys van Wakkerstroom het ‘n patroon van ‘n kappie, wat haar ouma by die geveg by Bloukrans gedra het en wat nog in die familie se besit was, gestuur. ‘Die Boerevrou’ se redaksie het ‘n skets van dié patroon laat maak. Dié skets verskyn ook in M.E.R. se artikel en is later gereeld as ‘n soort kenteken by die begin of einde van artikels gebruik.


Kersvader se vrou het daardie jaar nog as ‘n besorgde tannie met ‘n grys bolla op baie kaartjies verskyn
Bron: Wikipedia

Dopperkappies
In dié Desember 1919 uitgawe verskyn ook sketse wat ingestuur is deur mev G Viljoen van Venterskroon, distrik Potchefstroom, en mev Fick van Wilgefontein – drie Dopperkappies en ‘n polka- of skuifkappie.

Mev Viljoen het gesê dat die kappies wat sy gestuur het deur ‘n ou tante gemaak is. Dié tante het beweer dat die kappie op die tydskrif se voorblad nie ‘n regte Voortrekkerkappie is nie.


‘n Steendrukplaat uit 1919 van ‘n Margaret Evans Price illustrasie. Later jare het Margaret en haar man, Herman Fisher, Fisher-Price Toys begin. Baie van hulle oorspronklike speelgoedontwerpe is op haar illustrasies gebaseer
Bron: One Kings Land

In 1919 het dié Kersvader ‘n trommel gedra met ‘n sak speelgoed oor die skouer
Bron: PicClick
.
.
.
.

M.E.R. het geskryf dat die tuitkappie, wat op die tydskrif se voorblad verskyn het, waarskynlik ná die Groot Trek in Noord-Transvaal ontstaan het. Sy het ook gesê dat die rondebolkappie, wat amper soos die tuit- of Dopperkappie lyk, enkele jare van tevore nog in die Boland gedra is.

Sy het lesers aangemoedig om die oumense in hulle families oor kappies uit te vra en het ook ‘n gediggie, ‘Ouma se kappie’, geskryf.


‘n Kersvader-beeldjie van 1919
Bron: ebay

Invoer
Die meeste voertuie is toe nog ingevoer en ‘n advertensie wys hoe ‘n General Motors trokkie lyk wat op melkery-roetes ry. Die meeste patrone wat vrouens in die hande kon kry is ook ingevoer, maar in Kerkstraat, Pretoria het Millars ‘Geïllustreerde Kataloges Vrij op aanvraag’ beskikbaar gestel. ‘n Advertensie van dié modewinkel het in ‘Die Boerevrou’ van Desember 1919 verskyn.

Engelse Kerskaartjies en beeldjies van Kersvader het ook hulle pad na Pretoria gevind. Kersvader se vrou het daardie jaar nog as ‘n besorgde tannie met ‘n grys bolla op baie kaartjies verskyn

 

© 2020 Die/The Bronberger