Geelbekeend is besig om te verbaster PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 18 July 2009 01:28
Untitled Document

Die geelbekeend word bedreig deur sy verbastering met eksotiese eende soos die noordelike Mallard-eend. Dié twee spesies kruis maklik en hul afstammelinge is vrugbaar.

Soos die Mallard, vertoon die geelbekeend ook ’n blougroen spekulum met ’n smal wit rand in vlug. Hy het sy naam gekry van sy geel snawel met ’n swart vlek op die bomandibel. Van ver af lyk sy verekleed donker, maar nie so donker soos die swarteend nie.

Die geelbekeend, Anas undulata, is 54 cm lank. Sy kop en nekvere is donkergrys, sy agterste vere donkerbruin met ligter randjies en sy onderste vere is ’n ligter bruin en roomkleur.


Die geelbekeend met sy blougroen spekulum net-net sigbaar onder die vlerke

Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes is valer as die volwassenes. Die mannetjie maak ’n krassende fluitgeluid en die wyfie kwaak.

Hulle kom voor in feitlik enige oop varswatervlak, maar vermy vinnigvloeiende water. Geelbekeende verkies stadig-vloeiende water met poele en vleilande, permanente of seisoenale mere, strome, soutpanne en selfs kunsmatige wateropgaarplekke soos dié van myne en rioolwerke. Jy kan dié eende byvoorbeeld op Cullinan se myndam sien.

Hulle kan nie in ’n habitat met ’n hoë suurinhoud of water waarin die konsentrasies natrium chloried baie hoog is, oorleef nie. Hulle kan egter baie goed oorleef in hoë konsentrasies van ander soute, rondom pH 10 of meer.

Nagdiere
Geelbekeende is nagdiere; hulle vreet gewoonlik rondom skemer en na donker. Dié omnivore se dieet bestaan uit die vrugte, sade, wortels, blare en stamme van waterplante, waterinsekte, krappe en slakke, maar hulle sal ook landbougraan, soos mielies en sonneblomsade, vreet.

Dié eende migreer nie, maar is nomadies en sal tot 50 km ver trek agter seisoenale vleilande aan. Hulle vorm groot kolonies buite die broeiseisoen, maar paar af as die broeiseisoen begin.

Geelbekeende is monogaam, en sal slegs met die dood van ’n maat, ’n ander maat soek.

Volwassenes verveer drie tot vier maande ná die piek van die broeiseisoen, wat beteken dat hulle vir ’n tydperk van omtrent vier weke glad nie kan vlieg nie.

Hulle bou ’n nes op die grond in digte plantegroei naby die water. Die nes word gemaak uit gras, biesies of rietstamme en word gewoonlik beskerm deurdat dit onder plante gebou word. Sommige neste het ’n tonneltoegang deur die omringende gras.

’n Broeisel bestaan normaalweg uit ses tot twaalf ivooorkleurige eiers wat 25-26 dae vat om uit te broei. Die kuikens bly vir ongeveer ses weke in die nes en is volwasse na een tot twee jaar. Hulle kan 20-30 jaar lank leef.

Daar is twee subspesies van die geelbekeend: Anas undulata rueppelli, die noordelike geelbekeend, en Anas undulata undulata, die suidelike een.

 

© 2019 Die/The Bronberger