Rustfontein bied ?n veilige hawe vir twee- en viervoetiges Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 18 July 2009 01:26
Untitled Document

Die plaas Rustfontein buite Bronkhorstspruit is die tuiste van African Blessings, ’n welsynsorganisasie wat ’n beter lewe probeer skep vir weeskinders – nie net die menslike soort nie, maar ook vir perde en donkies. Daar is ’n perdereddingsentrum, kostuine ’n kunssentrum en, danksy fondse uit ’n onlangse kompetisie, is hulle nou besig om die Jochebed Kinderhuis te bou.


Rita Edkins, voorsitter van African Blessings, en haar man Brian, een van die direkteure, op die plaas Rustfontein

African Blessings is knap twee jaar gelede begin deur Rita Edkins, voorsitter, en haar man Brian, een van die direkteure. Rita is ’n afgetrede onderwysers uit Oos-London se wêreld. Sy sê dat dit eers met haar derde besoek aan die afgesonderde plaas Rustfontein was, wat die grond met haar ‘gepraat’ het.

Sy en Brian het besluit om hul huis by die see te verlaat, en ’n droom te kom opbou naby Bronkhorstspruit. Rita sê dat sy in elk geval nie haar aftrede sou kon deurbring deur te brei en na die walvisse te sit en staar nie. Sy het besluit om eerder te begin droom namens wesens wat vergeet het hoe om vir hulle self te droom.


Die Rustfontein donkies
Foto?s: African Blessings

Dié wesens sluit ook viervoetiges in. African Blessings het ’n perdereddingsentrum op die plaas begin om ’n tuiste te bied aan sommige van die perde wat vir veeartseny navorsing gebruik is by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP).

’n Trustfonds is geskep om te help met die versorging van dié perde wanneer OBP klaar is met hulle. Dié fondse word ook gebruik om nuwe huise vir die perde te soek en vervoerkostes om hul by hul permanente nuwe tuistes te kry. In die verlede is die perde wat vir navorsingsdoeleindes by OBP gebruik is, geslag as die navorsing verby is. Deesdae word daar ongeveer 30 perde elke drie tot ses maande beskikbaar gestel by OBP. African Blessings se doel is om huise te probeer kry vir al dié perde sodat hulle nooit weer geslag hoef te word nie.


Daar is groot planne vir ?n kinderhuis op Rustfontein

Die mense van Rustfontein se liefde vir diere loop wyd. Hulle het ook ’n paar reddingsgeval donkies aangeneem by Wet Nose Dierereddingsentrum. Zoë, Zelda en die nuwe vulletjie Zara het maats gemaak met Cheryl en Charlotte, die twee honde wat onder planke op ’n ashoop gevind is.

Nog ’n projek op dié plaas is die En- Shemesh Kunssentrum wat in Desember verlede jaar oopgemaak het. Die weeklikste ontmoetings by die kunssentrum is die hoogtepunt vir baie vrouens wat kilometers soontoe moet loop.


Wenners Alison Groves, Tumelo Tshabalala, Elda Capriani, Quintin Els,
Gordon Cunningham en Jenny Martins
Foto: Univision Groep

Maar dit is die Jochebed Kinderhuis wat African Blessings se grootste projek is. Jochebed was Moses se ma se naam. In die Bybelse verhaal moes Jochebed haar klein seuntjie in ’n mandjie tussen die riete wegsteek en hoop vir ’n beter toekoms as wat sy hom kon bied.

Geld om die bouwerk aan die kinderhuis te begin is ingesamel toe die Univision Groep die ‘Wen ’n Nissan Livina’ kompetisie tussen 21 April en 5 Julie by groot winkelsentrums in Gauteng gehou het. Meer as 9 000 inskrywings is ontvang. Die trekking is op 6 Julie by Global Nissan Hatfield gehou.


Daar is ?n perdereddingsentrum op Rustfontein

Ses wenners is aangekondig: Alison Groves en Elda Capriani het elk ’n Nissan Livina, ter waarde van R120 000, gewen. Quintin Els en Gordon Cunningham het elk ’n sewe-nagte pakket na Kenya, ter waarde van R16 000 gewen. Jenny Martins en Tumelo Tshabalala het elk ’n ‘quad’ ter waarde van R10 000 gewen.

Paul Edkins, een van die direkteure van African Blessings, sê dat die Jochebed Kinderhuis ’n droom gaan laat waar word. “Ons droom van ’n huis waar elkeen verwelkom word met onvoorwaardelike liefde en geluk die oomblik dat hulle die hekke op die plaas binnegaan.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger