Genoeg is genoeg! Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 10 December 2019 07:28
Untitled Document

Angelique Flynn van Shere skryf:
’n Mens kla nie elke keer as jy deur ’n skrikwekkende ervaring gegaan het nie, maar as dit vir die derde keer op dieselfde plek gebeur is dit darem wraggies genoeg. 

My pa van Wapadrand was ’n ruk gelede by die kitsbank by die petrolstasie daar oorrompel en moes baie vinnig dink en sy PIN-nommer aspris drie keer verkeerd intik om sy kaart te blokkeer en die skelms te keer om sy geldjies te steel. Hy het die man weggestamp wat hom kastig wou help. 

My ouers se elkedagse brood-en-melk winkel is by die Wapadrand Winkelsentrum aangesien hulle binne-in Wapadrand woon en dit veronderstel is om gerieflik te wees vir alle inwoners.

My ma het een Saterdagoggend in die kar gewag terwyl my pa gou by die winkel ingegaan het. Daar het sowaar ’n Meneer langs my ma in die kar geklim en geld gesoek. Sy het so geskrik en is weke daarna nog geskok oor dit wat gebeur het. Gelukkig het die sekuriteitswag dit gesien en die man verjaag.

Die derde geval wat nou net mooi genoeg is, was op 10 November toe my pa weer by die kitsbank wou geld trek en dieselfde woorde hoor, en in dieselfde stem as die man wat hom die eerste keer daar probeer beroof het. 

Dié keer het die man gesê hy werk by die drankwinkel. Toe weet my pa dis die skelm, want deur al die jare wat my ouers al die winkels in die sentrum ondersteun, kon my pa sien die ou soek niks behalwe moeilikheid nie. 

Op die ouderdom van 70 het my pa net een ruk en pluk aan sy hempsak te veel gehad en die man met die vuis beet gekry. Weet nie hoe die skelm na dit lyk nie, maar my pa se kneukels was erg geswel.

Wees asseblief heeltyd bewus van skelms om jou kar en oral in parkeerareas. Die is nié die eerste keer nie. Die personeel van die winkels het duidelike uniforms aan en skelms kan nie sê hulle werk daar sonder uniform nie. 

Moenie hulp aanvaar van enige makker wat maak of hy personeel is nie, want hy is niks meer as ’n skelm wat weer met dit gaan wegkom nie. 

My ouers se name word nie genoem nie, aangesien hulle bekend is in die gemeenskap en ek nie enige verdere skade aan hulle aangerig wil hê nie. 

Baie dankie dat ek my sê kan sê en ’n poging kan aanwend om dié Kersseisoen minstens ’n waarskuwing aan ouer mense te kan rig.

Geseënde Kersfees aan almal in die Bronberg-gebied en ’n baie voorspoedige Nuwejaar.

 

© 2020 Die/The Bronberger