Rietvlei se leeus in ‘muti-slagting’ vergiftig PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 19 November 2019 14:46
Untitled Document

Die karkasse van vier leeus is die oggend van 25 Oktober in die Rietvleidam Natuurreservaat gevind. Hulle kakebene en pote is afgesaag.

Lid van die Tshwane bestuursraad: omgewing en landboubestuur, raadslid Dana Wannenburg, het gesê dat dit lyk asof die leeus vergiftig is en dat hulle liggaamsdele vir ‘muti’-doeleindes verwyder is. Die karkasse is na Onderstepoort geneem vir gedetailleerde analise.

Die leeus is die vorige aand nog gesien. Volgens Dana lyk dit asof die mense wat die leeus doodgemaak het, presies geweet het hoe om toegang tot die reservaat te kry. Die leeus, twee mannetjies en twee wyfies, is in ‘n kamp in aparte hokke aangehou.


‘n Leeumannetjie en twee wyfies soek ‘n bietjie koelte by Rietvleidam Natuurreservaat
Foto: Outdoor Photo

“Die mense het geweet hoe om toegang vanaf die hoofpad te kry en waar om die heinings te knip om by die leeus in te kom. Geen lid van die algemene publiek kon daardie inligting gehad het nie,” sê Dana.

Hy sê dat sekuriteit opgeskerp is en dat die Tshwane metropolisie die hoofpaaie in en om die reservaat patrolleer. Die veiligheid van ander diere in die reservaat, veral die renosters, word ook in ag geneem. Die renosters is onthoring.

Dana sê dat dié brutale daad nie ongestraf gelaat gaan word nie en dat die Tshwane bewaringsbeamptes en nasionale en provinsiale departemente van die SA Polisiedienste onverpoos werk om die oortreders te identifiseer. Hy sê dat dié leeus as die “trots van Tshwane” beskou is.

Bradden Stevens, hoofgids en bestuurder van Rietvlei Koffiewinkel en Leeutoere, sê dat sy wêreld op Vrydag 25 Oktober omgekeer is.


Leeumannetjie en -wyfie by Rietvleidam Natuurreservaat
Foto: Verskaf

“Jarvis, Bashi, Tawana en Tau is brutaal vermoor in wat lyk soos ‘n muti-slagting. Ek het die afgelope agt en ‘n half jaar met dié leeus gewerk. Hulle het gehelp om my loopbaan te vorm en het die basis van my idees oor etiese, verantwoordelike toerisme gevorm. Hierdie diere is nie uitgebuit vir menslike hebsug en ydelheid nie.”

Bradden sê dat hy nie inligting oor die ondersoek kan bekendmaak nie, omdat dit nou ‘n saak vir die polisie is en hy wil nie die ondersoek in gevaar stel nie. Tog wil hy sê dat hy nie gaan terugsit en kyk hoe ons wild vermink word nie.

“Dié diere behoort aan elke Suid-Afrikaner en dit is tyd dat ons eienaarskap van hulle neem. Wie is met my?”

‘n Vroeëre foto van een van die vergiftigde leeus, Jarvis, is op dié uitgawe van die Bronnie se voorblad.

 

© 2019 Die/The Bronberger