Legendes oor die ontstaan van
die Moreletaspruit se naam loop
ver en wyd. Die algemene storie
is dat een van die Erasmusse wat
toeka se dae naby dié spruit gebly
het, verlief was op Letta de Beer. Hy
het elke more op sy perd by haar
venster, waar sy haar hare sit en
kam het, verby gery, sy hoed gelig
en gesê: “More, Letta.”
Die Vriende van die Serene Vallei het
egter onlangs op ’n beter verduideliking
van die Moreletaspruit se
naam afgekom. Een van hul komiteelede
het ’n notaboek van ’n
vorige inwoner van Oostvallei, Hans
Dannenfeldt, bekom. Hans het in die
1990’s en vroeë 2000’s baie tyd by
die Moreletaspruit deurgebring en
het notas gemaak oor die plante,
bome, voëls, vlinders en reënval
rondom die spruit.
Hans het ’n interessante teorie oor
die ontstaan van die naam ‘Moreleta’
gehad. Volgens hom is dit ’n
aanpassing van die woord “Moretele’
wat die Tswana woord
‘moreeko’, ‘morethlwa’ of
‘moretlwa’ vir Grewia flava, die
wilderosyntjie, is.
Die wilderosyntjie is ’n struik of klein
boompie met geel blomme en eetbare
vrugte. Die Tswanas het pap
gemaak van dié gedroogde, verpoeierde
vrugte. Die fyngestampte
vrugte gemeng met sprinkane, was
ook ’n Tswana lekkerny.
 Geel blom van die wilderosyntjie
Foto: Prelude Medicinal Plants Database
Mampoer
Hulle het ook ’n sterk alkoholiese
brousel van die bessies gemaak,
vandaar die volksnaam ‘brandewynbessie’
vir dié struik. Die
Tswanas was nie die enigste stam
wat wilderosyntjiebessies gebrou
het nie. Die Klaarwater Hottentotte
het ’n soort mampoer van dié
bessies gemaak en die Boesmans van Botswana het die vrugte
gebruik om ’n soort bier, ‘khadi’,
mee te maak.
Alhoewel ‘khadi’ van verskeie plante
gemaak is, was sy hoofbestanddeel
wilderosyntjievrugte. Dit is as ’n
gesondheidsdrankie gedrink en
vandag is daar gevind dat dié plant
baie alkaloïedes en ’n hoë persentasie
vitamiene C bevat, wat wel
genesende effekte sou hê. Die maak
van ‘khadi’ het toegeneem toe
Europeërs suiker beskikbaar gestel
het in Botswana.
Toe die stook van mampoer en die
brou van bier onwettig verklaar is,
het sterk alkoholiese drank die tradisionele
brousels, met hul baie
voordele soos voedingswaarde en
genesingskrag, vervang.
 Wilderosyntjie
Foto: Ellen Gorden
Boog
Die Boesmans het egter nie net bier
van die wilderosyntjie gebrou nie.
Hul het tradisioneel hul boë van dié
struik se dikker takke gemaak, en
hul pyle van die dunner takkies. Die
wilderosyntjie se takke is baie buigbaar
en die boombas is sterk genoeg
sodat toue daarvan gemaak
kan word.
Toeka se dae het die jong lote van
die wilderosyntjie ’n uitstekende lat
gemaak waarmee stout seuns pakslae
gekry het. Menige seuns wat op
plaasskooltjies was kan getuig dat
wilderosyntjie-latte ’n besondere
doeltreffende opvoedingshulpmiddel
was.
Hulle onthou dat onderwysers vir
oortreders gevra het om sommer
self sy instrument van pyniging van
die wilderosyntjiebosse te gaan
pluk. Groot was die dilemma, want
maak jy hom te dik kan hy nie per
ongeluk breek nie, en maak jy hom
te dun sny hy dalk in jou vel in.
Dié boompie se blare is goeie veevoer
en word gevreet deur wild
soos njalas, koedoes, kameelperde,
grys duikers en steenbokke.
Wilderosyntjies lok ook ’n verskeidenheid
voëls soos kwêvoëls,
tarentale, korhane en patryse.
 Vriende van die Serene Vallei
Foto: Vriende van die Serene Vallei
Stam
Die wilderosyntjie is ’n digte struik
met baie stamme wat gewoonlik
twee meter hoog word. As hy gesnoei
word om net een stam te hê,
kan hy ’n klein boompie van vier
meter hoog word.
Die bas is donker grys-bruin; die
jong takke is fluweelagtig en word
later ’n donker swart-pers kleur. Die
blare se bokant is grys-groen met ’n
ligter onderkant. Daar is fyn
haartjies aan beide kante van die
blaar.
Die blomme is geel en verdof later
na ’n oranje-bruin kleur. Die vruggies
is 8 mm in omtrek en word
rooibruin as hul ryp is.
Die wilderosyntjie kan van saad gekweek
word. Maak die vars sade
eers skoon en laat hul droog word
in skadu. Laat week die sade dan
oornag in warm water en saai in
saailingbakke vol riviersand die volgende
oggend. Bedek die sade met
5 mm riviersand en hou klam.
Plant saailinge uit as hul die tweeblaar
stadium bereik en wees versigtig
om die plantjies nie te veel
water te gee nie. |