Meer slange seil dié seisoen PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 19 November 2019 14:34
Untitled Document

Berigte van slange in die voorstedelike gebiede rondom die Bronberg het in Oktober toegeneem. Inwoners word gevra om dié slange asseblief nie dood te maak nie.

Volgens raadslid Ernst Botha is slange al hoe meer aktief in Faerie Glen, weens die hitte en dié gebied se nabyheid aan die Bronberg, Moreletaspruit en die Faerie Glen Natuurreservaat.

Op 5 November het Rian Swiegers, aanbieder van die maandelikse Bospraatjies, ‘n rooilipslang in sy motorhuis in Boardwalk Meander, Olympus gekry.

“Toe ek vanoggend die motorhuis binnestap, merk ek dadelik ’n beweging by die deur toe ek dit oplig. Omdat ek al by ’n vorige geleentheid een met ’n muis in die bek daar aangetref het, het ek dadelik die rooikleurige bekkie gesien en geweet dat dit ’n rooilipslang is,” sê hy.

Gelukkig is dié slang, wat ‘herald snake’ in Engels genoem word, nie giftig nie. Rian verduidelik dat die slang so genoem word omdat hy ’n helder oranje of rooi merk op die boonste lip het. Die kop is donkerder as die liggaam en die slang se maag is wit. Hulle is kleinerig met ’n gemiddelde lengte van 45 cm en het ’n breë kop.


Die slang in Rian Swiegers se motorhuis
Foto: Rian Swiegers

Rian sê dat die rooilipslang ’n stadig-bewegende slang is wat aggressie toon as hy versteur word. Die voorkant van die liggaam word opgelig, die kop platgetrek en die liggaam word opgeblaas terwyl hy sis en na die gevaar pik. Hulle byt maklik, maar is nie vir die mens giftig nie.

“Dit is inderdaad wat toe ook gebeur het,” sê Rian. “Hy het dadelik na my gepik toe ek hom met die hark optel en in ’n sak sit om hom in die veld te gaan vrylaat.”

Dié slange kan tot 16 eiers lê, wat na ongeveer 60 dae uitbroei. Die kleintjies is 130–180 mm lank. Rooilipslange vreet meestal paddas. Hulle het groot lem-agtige slagtande wat vir die doel aangepas is.

“Ek besef ons almal is maar bang en versigtig vir slange, maar hulle speel ’n baie belangrike rol in die natuur, soos om muisplae in toom te hou. Moet hulle dus nie sommer net doodmaak as jy op een afkom nie. Natuurlik het jy geen keuse indien jou lewe op die spel is nie, maar win eers raad in voordat jy dit doen,” sê Rian.

Mense wat geraadpleeg kan word oor slange is Mike Perry: 083-448-8854, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; of Johan Marais: 082-494-2039, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Raadslid Ernst Botha vra diegene wat slange raakloop om hom dringend te kontak sodat hy kan reël dat mense van die herpetologiese vereniging die slang kan verwyder. Bel hom by 076-133-9757. Bel Arno Naude oor slangbyte: 083-739-9303.

 

© 2019 Die/The Bronberger