Wrede strik veroorsaak tierboskat se einde PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 19 November 2019 14:34
Untitled Document

‘n Tierboskat wat in ‘n heining-strik gevang is, het ondanks pogings om sy lewe te red, omgekom.

Dewaal Venter van die Cullinan Bewarea het vertel dat hulle in die middel van Oktober dié erg ontwaterde tierboskat gekry het waar hy in ’n draadheining vassit. Die strik was rondom sy middellyf vasgedraai.

Die tierboskat is na Wet Nose Dierereddingsentrum geneem waar dr Wynand Du Plessis X-strale geneem het en die kat behandel het. Die kat is egter dood aan interne beserings, wat nie op die X-strale gewys het nie.


Die strik is van die tierboskat se middellyf afgehaal
Foto’s: Rayton/Cullinan Wildlife

Dewaal sê dat mense daagliks hulle grensdrade moet nagaan om te sien dat daar nie strikke gestel is nie. “Praat met julle werkers sodat hulle nie strikke in die gebied stel nie,” sê hy.

Dewaal Venter is ’n natuurliefhebber wat vrywilliglik beseerde wilde diere in die gebied rehabiliteer en terugplaas in die natuur. Hy sê dat dit net ‘n kwessie van tyd is voor daar nie meer wilde diere op vrye voet in dié gebied sal wees nie.


Die tierboskat by die heining

Dewaal vertel dat strikke ‘n wrede en pynlike doodmaakproses is wat ‘n dier vir dae lank kan laat ly. Dié diere gaan dood aan ‘n kombinasie van spanning, honger, erge beserings, pyn en infeksie. Diere wat ontsnap is gewoonlik erg beseer en gaan in elk geval aan infeksie dood.

In Oktober 2014 het ons berig dat ‘n tierboskat ‘n klipgooi van Cullinan se besige “fourways” kruising in ‘n vanghok gevang is ná hy homself daagliks aan die Bothas se werfdiere gaan vetvoer het.


Dewaal Venter by die tierboskat

Dié was ‘n suksesverhaal, want kat se kind is deur kenners verdoof en veilig in ‘n krat gesit om vervoer te word. Petra Diamantmyn het toestemming gegee dat die tierboskat in hulle wildsplaas vrygelaat kon word.

Die tierboskat, Leptailurus serval, is ’n medium-grootte wildekat met ’n gemiddelde hoogte van 50 cm en ’n lengte van 130 cm, insluitende sy stert, wat ongeveer 40 cm lank kan wees. Dié is ’n slank en langbenige kat met ’n kort stert, wat ‘n swart punt het. Hy het die langste bene van enige kat, relatief tot sy liggaamsgrootte, en het ’n klein kop met groot, ovaal ore, wat naby aan mekaar sit. Hy het swart kolle op ’n dof-bruin pels; die kolle verander in strepe op sy rug en bene.


Dr Wynand Du Plessis van Wet Nose Dierereddingsentrum het die kat se lewe probeer red

Tierboskatte het heelwat water nodig en woon nie in semi-woestyne of droë steppes nie. Hulle vreet gewoonlik klein soogdiere, voëls, reptiele en paddas, maar sal ook insekte soos kewers vreet.

’n Wyfie se werpsel bestaan gewoonlik uit drie kleintjies. Hulle lewe meestal tien jaar lank, maar kan tot 20 jaar oud word in gevangeskap.

 

© 2019 Die/The Bronberger