Zulu die weggooi-perd is smoorverlief PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 19 November 2019 14:33
Untitled Document

Zulu, die perd wat wonderbaarlik uit die kake van die dood ontsnap het, het deesdae ‘n vonkel in die oog. Sy nuwe lus vir die lewe het alles te doen met Amber, ‘n merrie wat in Oktober by Wet Nose Dierereddingsentrum aangekom het.


Zulu is op 25 Junie op ‘n grondpad afgelaai om daar dood te gaan

In Julie het ons berig dat Zulu op 25 Junie langs Zambeziweg-verlenging (R513) afgelaai is om daar dood te gaan. Volgens Veronica Van der Merwe van Wet Nose Dierereddingsentrum is Zulu naby Zuluka, ‘n stam-kultuurdorp, van ’n oop veewaentjie, wat gewoonlik gebruik word om skape te vervoer, afgesleep en net daar gelos.

‘n Plaaslike boer het vir die perd water gevat en vir Wet Nose in kennis gestel. Wet Nose het Zulu gaan oplaai en hulle veearts het alles gedoen om die perd te red, maar hulle het getwyfel of hy dit deur daardie eerste nag sou maak.


Zulu het mooi kondisie opgetel

Zulu is op sagte beddegoed neergesit, maar was te swak om op te staan of te vreet. Sy bene was erg geswel en sy lyf was vol sere. Zulu het ‘n lang herstelpad begin loop, wat ‘n ernstige terugslag ingesluit het.

Hy het kondisie begin optel en sy wonde het genees en ná 114 dae op dié herstelpad het Zulu skielik drasties verbeter toe die merrie, Amber, by Wet Nose aangekom het.


Zulu en Amber
Foto’s: Wet Nose

“Zulu is smoorverlief,” het Christa Wewege van Wet Nose gesê. “Cupido se pyl het hom getref en dit het hard getref,” sê sy. “Hy het binne sekondes ’n huppel in sy stap en ’n vonkel in sy oog gekry.”

“Ons het Zulu nog nooit so sien optree nie en dit is so lekker om te ervaar ná alles waardeur hy is; ’n oomblik wat ons beslis sal koester,” sê Christa.

 

© 2019 Die/The Bronberger