Sinkgat versper pad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 19 November 2019 14:24
Untitled Document

Motoriste is onlangs gewaarsku om die Delmaspad (R50) tussen Bapsfontein en Pretoria te vermy omdat ’n groot sinkgat ingeval het.

Die pad is by die vier-rigting stop net buite Bapsfontein gesluit en ook van Pretoria se kant af by die steenmakery op die kruising met die Elandsfonteinpad. Toegang is alleenlik vir inwoners.

Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het die vorming van ‘n sinkgat met roetine-instandhouding ontdek. Hulle het op 30 Oktober laat weet dat dié ontwikkelende sinkgat omtrent
6 km oos van die kruising tussen die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25) en die Delmaspad (R50) is.


Geo-tegniese ondersoeke aan die sinkgat
Foto: Noxolo Sibiya

Die departement het ‘n maatskappy aangestel om gedetailleerde geo-tegniese ondersoeke te doen om die situasie te evalueer. Dié maatskappy sal ná die ondersoek ‘n verslag skryf om te sê wat gedoen moet word.

Die departement het aanvanklik spoedverminderingsbordjies en dreunstroke op die pad gesit. Die steil helling is tydelik opgevul en die krake word op ‘n daaglikse basis dopgehou.

Motoriste is gevra om die grondpad D781 te gebruik wat die R50 met die R25 verbind.

 

© 2019 Die/The Bronberger