Duisende hektaar in drie-dae-brand verloor PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 19 November 2019 14:23
Untitled Document

Weerlig was die oorsaak van groot skade en bykans drie dae se brandbestryding in die Echo-sektor van die Cullinan-gebied. 

Reline Badenhorst vertel dat die weerlig die vuur ongeveer kwart oor drie die middag van 18 Oktober op Carlsrhuê gestig het. Die stormwind het die vuur vinnig aangestoot en binne minute was die veldbrand buite beheer. 


Die son gaan onder met die Edendale-brand op die voorgrond
Foto: Reline Badenhorst

Agt mense met vier voertuie, vrywilligers en lede van die Echo Brandbestrydingsvereniging het vinnig reageer, maar ongelukkig het die vuur reeds oor die R513 (van suid na noord), in die rigting van die Premier Wildlife Club, gespring. 


Vuurvegters in aksie noord van die R513
Foto: Reline Badenhorst

Nog vrywilligers van Echo het opgedaag om te help. Lede van die Wildlife Club het die vuur op die wildsplaas probeer blus. Die wind het die vuur vinnig in ’n noord-westelike rigting gewaai en die vuur het weereens oor die R513 gespring; dié keer van noord na suid.


Dié rondawel op Nooitgedacht het afgebrand
Foto: Mieta van Tonder

Lede van die Oscar-sektor het in Echo en op die wildsplaas hand bygesit. Echo-sektor het die Vrydagaand 9 uur afgestaan deurdat beurtkrag begin het en geen water gepomp kon word nie. Die mense op die wildsplaas het eers middernag ophou brandslaan. 

Die Vrydag was daar sowat 20 mense van Echo, Oscar en Wild Life Club-lede wat die brand bestry het.


Skade aan strukture by die Premier Wildsplaas
Foto: Nico Nel

Saterdag 19 Oktober het die vuur teen 10 vm weer opgevlam omdat verdwaalde kooltjies deur die wind aangewakker is. Die vuur het op Nooitgedacht begin en ook weer op die wildsplaas.


Die brand by Edendale is die Saterdag tot 8 nm beveg
Foto: Reline Badenhorst

Dié dag was daar 32 mense van Echo, Oscar en Wild Life Club-lede wat die brand bestry het. Tshwane het ook met twee voertuie op Casa Mia gaan help. Die wind het die vuur oor die Nooitgedacht-grondpad gejaag (wes na oos) maar teen 4 nm is die vuur in Echo geblus. Die vuur op die wildsplaas het steeds gebrand.  


Brand onder die kragdrade op Carlsrhuê
Foto: Bernice Roets

Skade aan strukture op Nooitgedacht
Foto: Mieta van Tonder

Die vuurvegters het net begin ontspan toe daar rook gesien is op Edendale Private Skool (Nooitgedacht) se grond. Almal wat nog kans gesien het, is na dié vuur toe.


Skade aan ‘n gebou op Nooitgedacht
Foto: Mieta van Tonder

“Ons het Saterdag teen 8 nm afgestaan, maar eienaars in Echo het groot skade gely,” sê Reline.


Veldbrand langs die R513
Foto: Kenny Truter

Die brand aan die ander kant van die R513
Foto: Reline Badenhorst

Op Echo noord van die R513 is ongeveer 800 hektaar vanaf die R513 tot teen die R573 afgebrand. Op Echo suid van die R513 is ongeveer 600 hektaar weiding en geboue op twee eiendomme afgebrand, en ‘n gemsbokbul het op Carlsrhuê doodgebrand.


‘n Smeulende boom op Edendale
Foto: Reline Badenhorst

Die brand op die wildsplaas is eers die Sondag teen 11 vm ten volle geblus. Wildlife Club-lede en vier Echo BBV-vrywilligers het gaan help.


Verwoesting noord van die R513
Foto: Reline Badenhorst
.

Meer as 1 000 hektaar weiding op die Premier Wildsplaas is afgebrand
Foto: Nico Nel

Meer as 1 000 hektaar weiding op die wildplaas is afgebrand. Ander skade was: twee 5 000 liter watertenks met hulle platformplanke; drie hoogspanning kragpale; ‘n stuk kabel van 80 meter; ‘n huisie se dak; en die renoster-boma. 


‘n Ou struktuur wat op Edendale
Foto: Reline Badenhorst

“Ons kan dankbaar wees dat daar geen ernstige beserings aangemeld is nie,” sê Reline.

 

© 2019 Die/The Bronberger