Blatante verontagsaming PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 19 November 2019 14:19
Untitled Document

Eus de Clerk van Cullinan skryf:
Verordeninge, dorpswette, reglemente, regulasies, ordonnansies – noem dit wat jy wil. Bestaan dit nog? En indien wel, hoekom word dit nie toegepas nie?

Elkeen van ons sien die blatante verontagsaming van dié wette elke liewe dag. Die smouse by die verkeerskruisings; mense wat in die openbaar alkoholiese drank gebruik; kos (pap en hoenderpote) wat op die sypaadjies gaargemaak en verkoop word; en rommel wat oral gestort word.

Hope tweedehandse buitebande wat langs die pad verkoop word; skuilings van plastieksakke en kartonbokse waarin plakkers/straatsmouse snags op die sypaadjies slaap; bedelaars by elke verkeerslig; en mense wat in die openbaar urineer.

Plakkate, vasgeplak aan verkeerstekens en lamppale, wat enigiets – van aborsies tot vergrotings van geslagsdele – adverteer; mense wat jou voorruit ongevraagd by verkeersligte was (lees: vuilsmeer) – daar is ‘n elle lange lys van die minagting van dorpswette.

Die problem wat ek hiermee het, is dat ek nog nooit gesien het dat ‘n enkele lid van die polisie een van die oortreders van die wet vastrap nie. Inteendeel, ek het al honderde male gesien hoe ons sogenaamde “wetstoepassers” die oortreders eenvoudig ignoreer.

Dit het nou deel van ons daaglikse bestaan geword – ons aanvaar dit asof dit maar normaal is. Maar dit is nie!

Wat is die doel van al die wonderlike (op papier) wette, as dit nie toegepas word nie?  
Brief verkort. – Red

 

© 2019 Die/The Bronberger