Aangerand op Hoofpynhoek PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 19 November 2019 14:16
Untitled Document

Marlene van der Westhuizen van Equestria skryf:
Graag wil ek my ervaring met julle deel. Ek bly in Equestria en my roete elke oggend is om van Meerluststraat links te draai in Lynnwoodweg om Solomon Mahlanga te kruis om toegang tot Grahamweg te verkry. Met die gevolg moet ek Maandag tot Vrydag by Hoofpynhoek verby ry. 

Soos gewoonlik maak die vragmotors ‘n u-draai in Lynnwoodweg om oorkant die pad te kom na Hoofpynhoek toe. Een oggend in Desember 2018 het dit weer gebeur. Die vragmotor het reg voor my ingery en veroorsaak dat ek skerp rem moes trap om ‘n ongeluk te vermy. 

Ek het vir die bestuurder getoet, waarop die bestuurder sy vragmotor in Lynnwoodweg tot stilstand gebring het, wat die gevolg gehad het dat alle verkeer, ek inkluis, geblok was. Die man het vanaf sy vragmotor se passasiersvenster vir my geskree en gebare gemaak. 

Ek het oorgegaan na die skouer van Hoofpynhoek om verby die vragmotor te kom, waarop hy weer voor my ingery het. Ek het my voertuig geparkeer en uitgeklim en wou ‘n foto van die vragmotor neem, toe die bestuurder op my afgestorm het en my aangerand het en my selfoon met sy skoene te pletter getrap het.  

Daar het ‘n horde mense gesit en toekyk en gesit en lag. Een man het my tot hulp gekom en my selfoonparte opgetel en vir my gegee. My selfoon was tot in die grond ingetrap. 

My regterhand se klein- en ringvinger was uit lit uit geklap. Nodeloos om te sê ek het erge trauma beleef. My dogter het my dokter toe geneem, wat my vir skok behandel het. 

My boodskap: Moet nie uit jou voertuig klim om te probeer foto’s of videos neem nie. Maak eerder daardie nes skoon, sodat ‘n padgebruiker kan veilig voel. Vanoggend het daar weer talle vragmotors gestaan en mense wat sit en wag vir werksgeleenthede asook iemand wat kos kook en verkoop.

 

© 2019 Die/The Bronberger