Stropers van bedreigde ietermagog vasgetrek PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 22 October 2019 13:17
Untitled Document

Vier mense is teen die einde van September in die Boschkopse polisiëringsgebied in hegtenis geneem vir die verkoop van ietermagôe ter waarde van R500 000.

Konstabel Yeroboam Mbatsane, woordvoerder vir die Boschkopse polisiestasie, sê dat die arrestasies gemaak kon word danksy ‘n ondersoek deur die Cullinanse Veediefstaleenheid.

Dit is ‘n misdaad om in besit van ‘n ietermagog of liggaamsdele van een van dié bedreigde diere te wees. United for Wildlife het gesê dat, ondanks die wet, meer as ’n miljoen van dié spesie in die laaste ruk verhandel is en dat die ietermagog kan uitsterf.

Professor Ray Jansen sê dat die stroop van die diere vanjaar met 75% persent toegeneem het, wat meer is as die stroop van renosters. Ietermagôe is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm. Hy sê dat dié diere binne die volgende vier jaar kan uitsterf as die stropery so aanhou.

Prof Ray, voorsitter van die Afrika Ietermagog-werkgroep, het gehelp met die aankeer van die vier mans oos van Pretoria. Hy het gesê dat die ietermagog wat gevind is, op 25 September dood is. Hy is oortuig daarvan dat daar aanvanklik vier ietermagôe was, maar slegs een is gevind.

Prof Ray is ook ‘n lid van die IUCN Spesie-oorlewingskommissie se Ietermagog-spesialisgroep. Hy is ‘n professor in die Departement Omgewing-, Water- en Aardwetenskappe in die Wetenskapfakulteit van die Tshwane Universiteit van Tegnologie.


’n Ietermagog rol hom in ’n bal op wanneer hy bedreig voel
Foto: Wikipedia

Mark
Daar is ‘n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië omdat dit glo medisinale waarde het. Prof Ray het navorsing onder plaaslike gemeenskappe gedoen, wat onderhoude met amper 300 tradisionele genesers ingesluit het, en dié navorsing wys dat die Suid-Afrikaanse tradisionele medisyne-industrie ‘n baie klein impak op die ietermagog-getalle het.

Dit is egter heeltemal ‘n ander storie in Asië. In 2017 is 47 ton ietermagog-skubbe, wat van Afrika na Asië op pad was, onderskep en 40 ton in 2018.

Prof Ray sê dat ‘n ietermagog nie langer as twee weke sal lewe ná hy gevang is nie. Stropers probeer om vir dié diertjies goed soos rys en brood te voer, maar hulle het nie ‘n bewegende kakebeen nie en het geen tande nie.

‘n Ietermagog het ‘n baie lang rekbare tong en vreet slegs miere en termiete. Een dier kan tot 70 miljoen miere in ʼn jaar vreet, maar sal nie dooie miere of kos wat hulle nie self gevind het, vreet nie.

Hulle is ook baie spesifiek oor watter soorte miere of termiete hulle vreet, so om ‘n ietermagog eenvoudig net in die natuur vry te laat, sal ook beslis sy dood veroorsaak. Dit is soos om ‘n mens te ontvoer en hom ver van sy huis af op ‘n plek waar hulle ‘n ander taal praat en ander kos eet, vry te laat.

Volgens prof Ray kos dit ongeveer R50 000 om ‘n enkele ietermagog te rehabiliteer. Dit sluit monitering in en baie diere moet weer gevang word as hulle toestand agteruitgaan.

Die Asiese ietermagog kan in aanhouding, soos in ‘n dieretuin, oorleef maar nie Afrika se ietermagog nie. Die langste wat ‘n Afrika-ietermagog in aanhouding aan die lewe gebly het was ses maande in ‘n dieretuin voor hy aan orgaanversaking dood is.


‘n Ietermagog is die enigste soogdier wat harde keratienskubbe op sy vel het
Foto: Wikipedia

Min
Baie min is oor die ietermagog bekend. Sy naaste lewende familielid is ‘n kat. ‘n Ietermagog is ook die enigste soogdier wat harde keratienskubbe op sy vel het. Hulle kry elke jaar of twee net een kleintjie, gewoonlik tussen Oktober en Desember. Die kleintjie word met harde skubbe gebore en word op die ma se rug gedra. Kleintjies word vir bykans twee jaar deur die ma versorg.

Die Suider-Afrikaanse ietermagog, Manis temminckii, is ongeveer 100 cm lank, insluitende sy stert, wat 30–50 cm lank kan wees. In vergelyking met sy stert en kragtige agterpote, is sy voorpote en kop relatief klein.

Die ietermagog is ‘n nagdier en is gebiedsgebonde. Hulle kom gewoonlik in grasvelde of oop dele van beboste gebiede voor en woon in gate wat hulle in die grond grou, maar sal ook ongebruikte erdvark- of vlakvarkgate oorneem.

Wanneer ‘n ietermagog bedreig voel of aangeval word, rol hy homself in ’n bal op om sy sagte pens, wat geen skubbe het nie, te beskerm. Hy het goed-ontwikkelde kloue wat hom toelaat om mierneste oop te breek.


Nicci Wright van die Afrika Ietermagog-werkgroep wys die ietermagog se kaal pens en lang tong
Foto: Africanpangolin.org

Professor Ray Jansen met ‘n ietermagog
Foto: Africanpangolin.org
.

Beskerm
Prof Ray sê dat die enigste manier om ‘n ietermagog te beskerm is om sy gebied te beskerm. So ‘n gebied strek van vyf hektaar in ‘n tropiese klimaat tot 20 hektaar in ‘n droë gebied. Die mannetjies is baie territoriaal en sal tot die dood veg as ‘n ander mannetjie sy gebied indring.

Volgens prof Ray kan die stroop van ietermagôe teengewerk word deur plaaslike gemeenskappe op te voed en ook om die wet as afskrikmiddel te gebruik om seker te maak dat oortreders streng vonnisse kry. Die groot hoeveelheid geld wat mense kan maak deur die diere te verkoop is ‘n groot versoeking in arm gemeenskappe.

Jy kan help om die ietermagog te beskerm deur die Afrika Ietermagog-werkgroep te kontak as jy hoor dat een te koop aangebied word. Elke sekonde tel as ‘n mens ‘n ietermagog uit die hande van stropers probeer red, maar mense word aangeraai om nie self die diere te probeer red nie. Dit is belangrik om eerder ‘n kenner te kontak.

Besoek www.africanpangolin.org of kontak prof Ray direk: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 082-555-1016.

*

Op 9 Oktober is vier stropers in die parkeerarea van die Kolonnade-winkelsentrum gearresteer vir die besit van ‘n ietermagog, wat in hulle voertuig se kattebak gevind is. ‘n Vyfde stroper het weggekom.

Prof Ray het gesê dat hulle sedert die middel van September op dié stropers se spoor is. Die 8,8 kg ietermagog-mannetjie is lewend gevind, maar prof Ray sê hy het ‘n 50/50  kans op oorlewing. Hy is baie swak, maer, gedehidreer en het baie witbloedselle verloor.

 

© 2019 Die/The Bronberger