Fietsryer oorleef Moreletapark-mesaanval PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2019 11:16
Untitled Document

Bekende bergfietsryer, Wayne McDuling, is op 19 September in De Villebois Mareuilrylaan naby die NG Kerk Moreletapark aangeval en sy fiets is gesteel. Die fiets is later in Plastic View se informele nedersetting gevind, waar vier mans vir diefstal en poging tot moord in hegtenis geneem is.

Die 55-jarige Wayne was om 5.30 vm met sy fiets op pad om mede-fietsryers te ontmoet toe vier mans hom met ‘n mes aangeval het en met verskeie ernstige beserings gelaat het. Hy is in die Pretoria Oos-hospitaal se hoë-sorg eenheid opgeneem, met ses messteekwonde aan sy arms en skouers en gebreekte ribbes.


Wayne McDuling is ‘n meester bergfietsryer
Foto: BikeHub

Een van die messteke het ‘n slagaar net-net gemis. Die dokters het gesê dat Wayne gelukkig is om te lewe: Hy sou doodgebloei het as die slagaar afgesny was.

Polisiewoordvoerder, Michael Nel, sê dat private sekuriteitsmaatskappye Bull en Brinant saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum gewerk het om die nabygeleë Plastic View te deursoek. Al vier verdagtes is in dié informele nedersetting opgespoor en gearresteer en die gesteelde fiets, wat duisende rande werd is, is ook daar gevind.


Wayne McDuling in Pretoria Oos-hospitaal ná die aanval
Foto: Noxolo Sibiya

Volgens Wayne se seun, Tyrone, gaan sy pa ten volle herstel. Hy het die gebruik van sy arm herwin en dit gaan glo elke dag beter met hom. Hy is ná ongeveer ‘n week uit die hospitaal ontslaan en het by die huis aangesterk.

 

© 2019 Die/The Bronberger