Wag-fiasko lei tot brossige braaibroodjies in die koelte PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 22 October 2019 11:12
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die Saterdag het vir ons goed begin: Getrakteer op ‘n lekker ontbyt by ‘n andersoortige kerkbasaar op Cullinan, waar ek en Metgesel ons bevoorreg gevoel het om die kraampies te kon beoordeel.

Die basaar se tema was op strokieskarakters gegrond (‘Comicon’, noem hulle dit) en oud, groot, ons, minder groot en veral klein het die basaar erg prettig gevind. Daarna werk ons ‘n gawe en lank beloofde kuiertjie by familie in. En toe word ons effe honger.


Die voordeur met swartbord waarop die dag se disse aangebring kan word

Ons krap kop en doen navraag om ‘n kuierplek op die dorpie te kry, waar ons nog nie voorheen aangesit het nie. Ons kry later een en neem as enigste klante by die plekkie plaas. Ek het (weer ná ‘n kopkrap of twee) besluit om eerder nie hier verslag te doen oor die fiasko wat gevolg het nie.

Te veel detail sou nodeloos wees, maar dit kan gemeld word dat ons ure (letterlik) ná ons aankoms aldaar, vort is sonder enigiets te ete agter die blad. Die heel eerste keer dat só iets in 17 jaar van Vreethans-rubrieke gebeur.


Veel varser sal jy nie die slaai en kruie op jou snoepie-bord kry nie

Die strooi wat die geduld finaal nek omgedraai het, is toe ‘n groterige groep gaste, wat ‘n goeie halfuur of meer ná ons aangekom en bestel het en self baie lank gewag het, toe so wragtie voor ons bedien word.

Kom ons gee maar die plek die ‘binnevet van die boud’. Dalk het ons net op die verkeerde dag daar beland, of dalk was daar ‘n misverstand – so groot soos die myn se gat self. Later sou Metgesel sê sy is eintlik half bly dinge het so skeef geloop soos dit het, want sy wonder hoe ‘n plek met ‘so ‘n sieslike toilet’ se kombuis dalk lyk.


Ontspanplek op die stoep voor die ou stasiegebou wat The Snackery huisves

Toe die ergste moer gesak het, keer die hongerte saam met die rustigheid terug. Die probleempie is egter dat die meeste kuierplekke se kombuise (soos die dorp self) om drieuur toemaak. En die enkeles wat wel later oop bly, is reeds op ons kerfstok. Iemand stel voor dat ons ‘n draai by Cullinan Junction loop maak. Ons maak.

Hier kry ons vir Edward en Angela wat (onder meer) ‘n plekkie by die ‘Junction’ bedryf wat hulle die ‘Snackery’ noem. Oor naweke bedien hulle ontbyt en ligte etes, soos ‘n mens van ‘n ‘snoepery’ sou verwag en Sondae kan jy aansit vir middagete. En ja, hulle kan ons help.


Brossige braaibroodjies in die koelte van ‘n koraalboom

Edward dek keurig en stylvol ‘n tafel in die diep koelte van ‘n koraalboom voor die ou stasiegeboutjies.

Metgesel bestel ‘n braaibroodjie van hoender/mayo saam met koffie en ek een met gegeurde maalvleis, kaas en eier. Edward loop spesiaal oor die spoor om ‘n koue bruisdrankie by die bure van Oppistasie-restourant vir my te loop haal.

Die brossige braaibroodjies is so na aan presies reg as wat vir my kan kom. Dit word bedien saam met ordentlike, handgesnyde skyfies en slaai vars uit die sinkgebou se voortuin gepluk. Net terloops: Ons het nie ‘n volle tien minute vir ons kos gewag nie.

Ons geniet die uitspanning in die koelte en verlaat die ‘Junction’ tevrede, ontspanne en versadig.

Die broodjies en bykomstighede kos R55 elk. Jy kan The Snackery vir meer inligting bel by:
081-584-3843.

 

© 2019 Die/The Bronberger