Ouhout kry nie maklik koud nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 October 2019 11:03
Untitled Document

Ouhout se naam is afgelei van die boom se hout wat stadig brand en wolke rook afgee, soos ou verrotte hout. Die boom het kwasterige en verdraaide stamme en die verweerde voorkoms van sy vlokkerige bas dra by tot sy noemnaam.

Ouhout, Leucosidea sericea, is ‘n inheemse boom in die Rosaceae of roos-familie. Alhoewel dit wêreldwyd ‘n groot familie is, is daar min voorbeelde daarvan in Afrika, spesifiek in suidelike Afrika.


Ouhout is ‘n klein, digte immergroen boom
Foto: Plantbook: Glenice Ebedes

Die generiese naam, Leucosidea, is afgelei van die Griekse woord vir ‘wit of grys voorkoms’ en sy spesie-naam, sericea, is Latyns vir ‘syagtig’ na aanleiding van die syagtige hare op sy blare. Elke blaar het drie tot vier pare klein blaartjies wat donker groen aan die bokant en ligter groen aan die onderkant is. Wanneer dié getande blare gekneus word, is daar ‘n sterk kruidagtige geur.

Dié boom se hout is nie baie hard nie, maar hy maak goeie heiningpale in grond wat permanent nat of klam is. Die hout weeg 0.61 g per cm³.


Die vlokkerige bas
Foto: Plantbook: Glenice Ebedes

Ouhout kan as ‘n yl struik voorkom of as ‘n klein, digte immergroen boom wat tot sewe meter hoog en vyf meter wyd kan word. Sy blomme is ‘n groenerige geel kleur, stervormig en groei in die lente in pieke aan die punte van jong lote. Sy vrugte is neutagtig en omtrent 3 mm in deursnee. Hulle word van Desember tot Januarie aan die boom gedra.

Zoeloes maak ‘n mengsel van die blare om oogsiektes te behandel. In die ‘South African Journal of Botany, 2004’ is berig dat die blare tradisioneel as wurmafdrywer en saamtrekmiddel gebruik is. ‘n Studie het gewys dat die plant antimikrobies optree deur siekteveroorsakende mikrobes te bekamp, spesifiek Staphylococcus aureus, Bacillus subtilis en Candida albicans.


Die blare
Foto: Wikipedia

Die blomme
Foto: Wikipedia

Ouhout is rypbestand en is die ideale spesie om plante wat maklik doodryp te beskerm. Omdat ouhout so vinnig groei, kan dit gebruik word om ‘n immergroen blaredak te skep wat ander plante in die winter teen koue en in die somer teen die son beskerm. Die boom kan ook ‘n digte heining vorm wat privaatheid verleen en beskerming teen wind en geraas bied.

Ouhout groei maklik van saad of stiggies. Saad moet in ‘n goeie saailingmengsel gesaai word en klam gehou word. Saailinge kan redelik maklik onder volwasse plante gevind word, maar moet versigtig uitgehaal word sodat die wortels nie beskadig word nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger