In dié geval tel lengte wel PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 October 2019 11:03
Untitled Document

Elke nou en dan kom daar ‘n nuwe studie uit wat verduidelik hoekom flappe sulke lang sterte in die broeiseisoen groei. Die langstertflap se stert is so oordadig dat die arme broeiende mannetjies glo glad nie in nat weer kan vlieg nie.

Die mannetjies met die langste sterte stel hulle lewens in gevaar, maar volgens die Andersson-eksperiment is dit dié langstert-manne wie se gene die suksesvolste oorgedra word.


‘n Onvolwasse mannetjie wat begin volwasse vere kry

Malte Andersson en sy kollegas het super-lang sterte aan sekere mannetjies geplak en bevind dat wyfies dié mannetjies bo die normale langstert-mannetjies verkies. Die outjies wie se sterte in die eksperiment geknip is, kon nie wyfies kry nie.

Elke mannetjie patrolleer sy gebied om indringers te verdryf en word deur die wyfies dopgehou.  Die mannetjies vlieg met stadige reëlmatige bewegings van hulle vlerke terwyl die lang hangende stert effe uitgesprei is.


‘n Broeiende mannetjie met sy lang stert
Foto’s: Wikipedia

Wyfies het ‘n baie lang nestydperk en hulle kyk die gebiede en die mannetjies goed uit voor hulle ‘n keuse maak. Die wyfie begin glo in ‘n spesifieke mannetjie se gebied nesmaak voor die hofmaakproses eers begin het.

Die broeiseisoen is van Februarie tot Julie, met ‘n piek in Maart en April. Die wyfies weef die nessie in die vorm van ‘n groot koepelstruktuur en voer dit met saadjies uit. Sulke nessies word ‘n halwe tot een meter bo die grond in hoë gras vasgeweef. Die wyfie lê een tot drie eiers wat ‘n bleek blou-groen kleur is met bruin strepe.


Die wyfie

Die langsterflap, Euplectes progne, is meestal te sien in oop moerasagtige grasvelde. Die voël is 16–20 cm lank en weeg 25–46 gram. In die broeiseisoen kry die mannetjie ’n kenmerkende swart veredos en lang stert, wat hom 60 cm lank maak. Die broeiende mannetjie kry ook rooi skouers wat met witterige dofgeel begrens is en het ‘n snawel wat so wit is dat hy ‘n blouerige skynsel het.

Die onopvallende vaalbruin wyfie is groter as ander flapwyfies en haar borskant is dofgelerig met ligte strepe op die bors en sye. Sy het smal stertvere en ‘n horingkleurige snawel. Buite die broeiseisoen lyk die mannetjies bykans net soos die wyfies, alhoewel hulle groter is.


‘n Verdere oorgang tot volwasse broeivere

Dié voëls kom voor in swerms, wat meestal uit een of twee mannetjies en ‘n klomp wyfies bestaan.

Buite die broeiseisoen bly hulle in groter swerms, wat in rietbeddings oornag. Die swerm vreet saam op die grond, maar sal soms insekte in die lug vang.

Dié voëls se dieet bestaan hoofsaaklik uit sade, alhoewel hulle ook insekte soos kewers, sonbesies en plantluise, sowel as spinnekoppe vreet.

 

© 2019 Die/The Bronberger