Boomplantdag met blompeer gevier PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 October 2019 11:02
Untitled Document

Vriende van Faerie Glen Natuurreservaat het Boomplantdag op 7 September saam met die Dendrologiese Vereniging gevier deur ‘n plaaslike inheemse boom aan te plant.

Die blompeer of bruidjie-van-die-bosveld, Dombeya rotundifolia, is deur Danie van Eeden van Wild Route Kwekery in Zwavelpoort geskenk.


Izak van der Merwe, links met die graaf, en Danie van Eeden, regs, plant die blompeer
Foto’s: VFGNR

Die blompeer is een van die eerste bome wat in die lente blom. Hy dra massas roomwit bloeisels, gelaai met nektar en stuifmeel wat bestuiwers en gevolglik ook insekvretende voëls, lok.

Een van die Vriende, Reuben Heydenrych, het meer oor sy nuwe boek, ‘A Field Guide to Magaliesberg Trees’, vertel. Die boek is ‘n handige gids vir mense wat bome in die Faerie Glen Natuurreservaat wil identifiseer, omdat bome van die Bronberg baie soortgelyk is as dié van die Magaliesberg.


Skrywer Reuben Heydenrych, links, en die kompetisiewenner, Gert Middelberg, regs

Gert Middelberg was die wenner van een van dié boeke in ‘n kompetisie waar boomtakkies geïdentifiseer moes word.

Reuben gaan met die Vriende se jaarvergadering op 7 November as gasspreker optree en meer vertel oor die ooreenkomste en verskille tussen bome van die Magalies- en Bronberg.

 

© 2019 Die/The Bronberger