Bejaardes veg saam teen rommel PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2019 10:54
Untitled Document

Rommelstrooiery langs Simon Vermootenweg het so erg geraak dat inwoners van Pretoria Oos Aftreeoord onlangs die pad self skoongemaak het. Die rommel was egter binne ‘n japtrap terug en dié rommelstrooiery is op ‘n vergadering op 2 Oktober aangespreek.

Dié openbare vergadering is by die Willow Methodist-kerk in Meerluststraat, Equestria gehou en inwoners van wyk 85 het die kans gehad om direk met burgemeester Stevens Mokgalapa te praat.


Sakke vol gemors is deur inwoners van Pretoria Oos Aftreeoord opgetel

Die wyk sluit Wilgers, Equestria, Wapadrand en dele van Faerie Glen in. Raadslid vir dié wyk, Jacqui Uys, het gesê dat die vergadering oor die algemeen positief was.

Oor Simon Vermootenweg het sy gesê dit is kommerwekkend dat inwoners in dié gebied self onwettig rommel strooi. Twee inwoners van ‘n landgoedontwikkeling is op video vasgevang waar hulle besig was om rommel te stort. Voetgangers gebruik ook nie die asblikke wat langs die pad voorsien word nie.


Die skoonmaakproses
Foto’s: Gertjan

Wallie Louw, afgetrede siviele ingenieur en bestuurder van Pretoria Oos Aftreeoord, het die vroeëre skoonmaakaksie gereël. Bejaardes het die stuk sypaadjie van die hoek van Farmweg en Simon Vermootenweg tot die hoek van Rossouwstraat en Simon Vermootenweg skoongemaak. Veertig sakke vol papiere, skille, glasskerwe en allerhande gemors is bymekaar gemaak.

Binne ‘n paar dae was Simon Vermootenweg van The Grove-koopsentrum tot die hoek van Furrowweg weer vol rommel.

 

© 2019 Die/The Bronberger