Pligsversuim omskep glo rivier en dam in rioolput PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 22 October 2019 10:53
Untitled Document

Die Roodewag- en Pienaarsrivier-forum het hulle tot die Menseregtekommissie (MRK) gewend in ‘n poging om hulp te kry vir die besoedeling van die Pienaarsrivier en Roodeplaatdam.

Volgens die forum word verskeie internasionale voorskrifte deur die Baviaanspoort-watersuiweringsaanleg oortree, wat veroorsaak het dat die river en dam in ‘n dooie watermassa omskep is.


Die water het vreemde kleure
Foto’s: Verskaf

Die forum sê dat die regering sowel as die provinsiale en plaaslike owerhede nie hulle grondwetlike pligte nakom nie en dat onverwerkte riool, rioolslik en onbehandelde afvalwater in die Pienaarsrivier vrygelaat word en stroomaf in die Roodeplaatdam beland waar dit teen hoë koste by die Magalieswaterwerke gesuiwer word en daarna as drinkwater verskaf word.

Die Baviaanspoort-aanleg is glo ontwerp om 40 miljoen kubieke meters riool per dag te verwerk, maar dit ontvang soms dubbel soveel weens die groot uitbreidings suid van Baviaanspoort, in die Bronberg-gebied.


Riool in die Roodeplaatdam

Die Pienaarsrivier se bo-lope is suid van die Bronberg op die grens van Bashewa en Tierpoort. Die rivier kom deur die Bronberg by Nkwe Ontspanningsoord se poort en loop dan noordwaarts.

Ander faktore wat tot die Pienaarsrivier se besoedeling bydra is glo dat afval van nywerhede, ‘n hospitaal en informele nedersettings stroomop in die spruite wat in die Pienaarsrivier vloei beland en so ook uiteindelik in die Roodeplaatdam.


Drywende rou riool van naderby bekyk

Tshwane-metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, het gesê dat twee van die ouer eenhede by die Baviaanspoort-aanleg nie in ‘n werkende toestand is nie, maar dat ‘n kontrakteur besig is om een op te gradeer. Dit sal die kapasiteit met ongeveer 16 miljoen kubieke meters verhoog. Lindela het gesê dat die opgradering in hierdie finansiële jaar voltooi sal word. Tshwane se konsepbegroting vir 2019-20 dui ‘n bedrag van R40 miljoen aan vir die Baviaanspoort-aanleg se opgradering.

 

© 2019 Die/The Bronberger