Só het ons mense plotseling geboer PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 September 2019 08:01
Untitled Document

Groot gedeeltes van die landelike gebied in Bronberg-wêreld is oor die 17 jaar van die Bronnie se bestaan deur die verskuiwende stadsgrens ingesluk. Ons kyk hier terug na 17 kleinhoewe-bedrywe waaroor in ons beginjare berig is.

Laaste skaapwagter

Oupa

In Oktober 2002 het ons berig dat mense daagliks nog vir Oupa, Olympus se laaste skaapwagter, en sy troppie skape langs Atterburyweg-verlenging kon sien waar die skape gewei het. Oupa het gesê dat dit hom en sy skape nie pla dat die pad al hoe besiger word nie. Dié stukkie pad grens vandag aan hoë-digtheid behuisingskemas en van ongerepte veld is daar nie meer sprake nie.

Organiese boerin

Marguerite Alant

Lesers het organiese boerin, Marguerite Alant, leer ken toe ons in Julie 2003 oor haar Ille de France skaapboerdery in Zwavelpoort berig het. Sy het haar skape se voer self aangeplant en daar is geen kunsmis op Marguerite se plot gebruik nie; ook geen voer-wat-uit-‘n-sak-uitkom nie. Marguerite is op 21 Januarie 2009 in die ouderdom van 70 jaar oorlede.

Leeftyd se liefde

Carel Burger

In November 2002 berig ons dat Carel Burger 10 jaar oud was toe hy vir die eerste keer aalwyne begin versamel en kweek het. Ons het na die aalwyne, vetplante, euphorbias en bome in sy natuurtuin teen die hang van die Bronberg gaan kyk waar hy toe reeds 32 jaar gewoon het. Carel is op 4 Mei 2006 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.

Teler van formaat

Yvette Steyn

In Maart 2004 het ons dié foto geplaas van Yvette Steyn by haar Nooitgedachter stoethings, Arop Aban. Ons het by Yvette se Welbedacht Nooitgedacht-stoetery gaan kuier en gehoor dat die Nooitgedachter die eerste Suid-Afrikaanse perderas is wat stamboekstatus ontvang het – selfs voor die Boerperd.

‘Hoendertonnels’

Cornelis Cronjé

In Oktober 2002 het ons vertel watter vernuftige boerdery-plannetjies Cornelis Cronjé op 30 hektaar van die plaas Tweefontein maak. Cornelis het sy leë hoenderhokke as groentetonneltjies gebruik en hy het toe nog die aanslag van ontwikkeling afgeweer.

Potte gooi

Pieter en Elaine Grobler

In Maart 2004 vertel ons dat Pieter en Elaine Grobler hulle pottebakkersonderneming op die Boschkopplot, Soetdoring, gevestig het. Hulle het ‘n oondkamer en ateljee gebou om hulle reeks kleiwasbakke en reuse tuinpotte te skep. Pieter het gesê dat hulle maar sal sukkel om in die dorp te bly omdat hulle in hart en siel plaasmense is.

Klein kalante

Piet van der Merwe

In Desember 2002 berig ons dat Piet van der Merwe toe al bykans 40 jaar lank besig was met die teling van Dexters op Zwavelpoort. Hy het hom in 1962 op Zwavelpoort gevestig. Piet is op
12 Januarie 2007 oorlede. Sy seun, Kleinpiet, het toe met die Dexters voortgegaan.

Kekkel en Kraai

Rinus de Wet

In April 2005 het ons dié foto van Rinus de Wet by Bakkies, Kekkel en Kraai Pretpark se hondmak vark, geplaas. Dié diereplaas was ‘n familie-onderneming op Bashewa, waar Hedera Kwekery ook bedryf is. Kobie de Wet en sy seun Hannes was vir die kwekery verantwoordelik. Hannes en sy vrou, Riana, haar pa, Dionne Crafford, en haar broer, Dirk, het die diereplaas behartig.

Plot op ‘n gat

Harry Lintvelt

In Maart 2003 vertel ons dat Geel Harry Lintvelt ‘n plot gebou het op ‘n 8 ha gat in Zwavelpoort. Nadat hy sowat 500 000 kubieke meter se opvullingsmateriaal en bogrond in die gat gestoot het, het Harry vyf hektaar vrugbare gelyk aarde gevestig. Harry en sy gat het ‘n vennoot by Mooiplaas Transport geword, wat vir ‘n paar jaar vanaf dié Zwavelpoort-hoewe bedryf is.

Papegaaie en kwashale

Gerda Hamm

In Mei 2007 berig ons dat Gerda Hamm, na jare in die sakewêreld, teruggekeer het na haar eerste liefde – skilder. Haar werk volg geen van die nuwe skilder-tendense nie en sy weier om by veilige, voorspelbare modes in te val. Op hulle Boschkop-hoewe het Gerda saam met haar vriend Dean met Afrika Gryspapegaaie geteel en aan Bester Birds voorsien.

Hoendergogga pik

Kobus Jacobs

In April 2003 vertel Kobus Jacobs dat die hoendergogga hom in 1992 gepik het toe hy by ‘n Potchefstromer se kuikenbedryf beland het terwyl hy ‘n hofsaak daar behartig het. Dit het vir hom na ‘n maklike soort boerdery gelyk en hy is aanvanklik wreed ontnugter. In 1997 het hy ’n 11 hektaar Zwavelpoorthoewe gekoop en het met een hoenderhuis begin.

Waterwys se geheim

Andries Visser

Ná baie jare se ervaring van waterwys, maak Andries Visser daarop aanspraak dat hy uiteindelik weet hoe en hoekom waterwys werk. Daarom kan hy glo ook die diepte en sterkte van ‘n onderaardse bron tot op ‘n tiekie bepaal. In April 2007 is ons saam met hom na ‘n kaal Bronbergse plot waar hy sy geheime gedemonstreer het. Andries het toe ook met turksvye op sy kleinhoewe geboer.

Hart vir hout

Theo Swart

Ons het in Oktober 2003 vertel dat Theo Swart hardehoutmeubels geskep en statige ou meubelstukke tot hulle eertydse glorie gerestoureer het. Hy het verkieslik met soliede houtsoorte, soos Afrika-mahonie, kersiehout, kiaat, imbuia en rooshout gewerk. Theo is teen die einde van Mei 2004 op sy Tierpoort-hoewe oorlede.

Staar na sterre

Berto Monard

Berto Monard het wêreldberoemd geword vir dit wat hy “backyard star gazing” genoem het. In November 2003 het ons die eerste keer oor hom berig en daarna het ons gereeld geskryf oor Berto en die sterrewag wat hy bo-op die Bronberg gebou het. Berto is later weg omdat die lig van al die nuwe ontwikkelings sy nagvisie belemmer het.

Dinge in die donker

Theo Conradie

Ons het in Februarie 2004 vertel hoe Theo Conradie sampioene kweek. Hy het sowat 150 kg per dag gepluk en gelewer. Die sampioene is in plastiese sakke, wat hy met ‘n komposmengsel van hoendermis en koringstrooi gevul het, gekweek. Sy sampioenspore is uit die Kaap bestel. Hy het gou die bynaam ‘Theo Mushroom’ onder die gebied se mense gekry.

Uitvoer proteas

Freek van Eeden

Mense onthou die proteas van uitvoer-gehalte wat Freek van Eeden op sy kleinhoewe gekweek het en sy perskes wat altyd die eerste van die seisoen was. In Julie 2004 berig ons dat Freek, wat vir 28 jaar op Zwavelpoort gewoon het, oorlede is. Hy is ook onthou vir sy fotografiepraatjie op RSG. Sy seun, Danie, bedryf Wild Route kwekery vanaf dié plot.

Bobaas kaasmaker

Johan Boon

In April 2004 het ons vertel dat bobaas-kaasmaker Johan Boon van Tweedracht Boerekaas, Cumin, Gouda en Edam maak van sy eie Frieskoeie se melk, wat hy twee maal per dag melk. Johan het verduidelik dat kaasmaak die ideale vars-produk-plotbedryf is omdat ‘n mens nie so gedruk is om gou te verkoop nie. Hoe langer ‘n kaas lê, hoe beter word hy.

o
 

© 2019 Die/The Bronberger