Provinsie neem Rayton & Cullinan oor PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 17 July 2009 22:56
Untitled Document

Die Gautengse regering het ingegryp in ’n poging om die haglike toestand van die Nokeng tsa Taemane-munisipaliteit se geldsake uit te sorteer. Beheer oor die raad, wat ’n gemors van Cullinan en Rayton se dienslewering en geldsake gemaak het, word oorgeneem, maar die raad word nie ontbind nie.

Volgens die Gautengse premier, Nomvula Mokonyana, is besluit om in te gryp omdat die munisipaliteit nie sy sake kon bestuur of gelde kon invorder nie. Meer geld is volgens haar aan salarisse bestee as waarvoor begroot is, krediteure kon nie betaal word nie, dienslewering was swak en die kapitaalbegroting om onder meer infrastruktuur in stand te hou en op te knap, is nie ten volle bestee nie.

Die provinsie sal voortaan die dag-tot-dag bestuur van die munisipale gebied vir ’n onbepaalde tydperk ten volle oorneem. Dit is nie duidelik wat die verkose raadslede in dié tydperk gaan doen nie.

Dié stap volg nadat die gebied se munisipale bestuurder, Mpho Mogale, verlede maand op verpligte verlof geplaas is terwyl verskeie bewerings van ongerymdhede teen hom ondersoek word.

Nokeng se buurman, Kungwini, se burgemeester, Obed Malia, en sy munisipale bestuurder, Jo Gomba, is ook op verpligte verlof terwyl ’n groot aantal bewerings van korrupsie en ongerymdhede by dié munisipaliteit ondersoek word.

 

© 2019 Die/The Bronberger