Dapper plaagbestryder fnuik kapers PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 September 2019 07:59
Untitled Document

‘n Sakeman van Rayton, Reghardt Heymans, het sy eie lewe in gevaar gestel toe hy op
6 September gekeer het dat twee gewapende rowers ‘n motor met twee bejaarde vroue daarin, kaap.

In die proses het een rower sy wapen op Reghardt gerig en skote is afgevuur.

Die voorval het in die parkeerterrein van ‘n hardewarewinkel op die dorp gebeur nadat drie rowers eers probeer het om twee winkels in die dorp se grootste winkelsentrum te beroof.

Die roofpogings is deur personeel en gemeenskapslede gefnuik en die rowers het op vlug geslaan.

Blykbaar kon twee van die boewe nie hulle wegkomkar betyds kry nie en het na die parkeerplek van die hardewarewinkel agter die sentrum gehardloop. Hier was hulle besig om twee bejaarde vroue van die sorgsentrum op Kleinfontein se motor te probeer kaap, toe Reghardt by die winkel uitkom.

“Ek het die een tannie hoor gil en gesien wat besig was om te gebeur. Ek het dadelik nader gestorm en op die rowers geskree. Daar was een aan die bestuurder se kant en die ander een aan die passasierskant,” het Reghardt aan Die Bronberger vertel.


Reghardt Heymans

Een rower het sy vuurwapen op Reghardt gerig en hom beveel om sy motorsleutels te oorhandig.

“Daar was nie ‘n manier dat ek dit sou doen nie. Nie soseer oor my kar nie, maar veral oor my vrou Elize in die kar was,” sê Reghardt.

Hy het sy motorsleutels so ver moontlik die veld ingeslinger en dis toe dat die rower ‘n skoot op hom afvuur, wat gelukkig niemand getref het nie.

Volgens Reghardt het ‘n werknemer van die hardewaresaak toe met ‘n bakkie op die toneel aangekom en op die rower afgepeil. Die bakkie het die gewapende boef omgestamp en bo-oor hom gery.

Die polisie het die rower later in hegtenis geneem en beslag op die vuurwapen gelê. Die ander twee het ontvlug.

Reghardt is die eienaar van ‘n plaagbestrydingsonderneming op die dorp. “Dis my werk om teen goggas op te tree,’ het hy skertsend aan die Bronnie gesê.

Die stasiebevelvoerder van die Cullinanse polisie het Reghardt vir sy dapperheid geloof.

 

© 2019 Die/The Bronberger