Oppermans trap steeds diep spore by dié skool Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 25 September 2019 09:57
Untitled Document

Hanri Opperman is as die nuwe hoof van Kaalvoet Kleuters by Laerskool Witpoort aangestel. Hanri se man, Louis, is deel van die Opperman-familie wat al sedert die 1860’s op Witpoort bly.

Generasies Oppermans woel en werskaf al langer as ‘n eeu en ‘n half in dié distrik, waar hulle aan die Slag van Witpoort in die Engelse Oorlog deelgeneem het en grond geskenk het om die laerskool te begin.


Meester Bos en sy leerlinge in 1904
Foto: Verskaf

RWJ Opperman was die eerste een wat op Witpoort gaan woon het. Sy seun, PA ‘Groen Flip’ Opperman, het op 16 Julie 1900 aan die Slag van Witpoort deelgeneem. Ook het JGS ‘Groot Gert’ Opperman, en sy seun, ‘Witflip’ Opperman hier gewoon.

Ná die oorlog is Laerskool Witpoort in 1904 in ‘n kamertjie met 32 kinders begin. Meester Bos was van 1904 tot 1906 prinsipaal en is deur Meester van Leeuwen opgevolg tot 1908. Dié een-vertrek skool het op 14 Mei 1907 ‘n Transvaalse Regering staatskool geword.


Met die Slag van Witpoort, van links na regs: Groenflip Opperman, Groot Hand Eendjies
en Baltus Erasmus
Foto: Hendrik Opperman-versameling

Op 28 Julie 1909 het JGS Opperman van Kameelzynkraal en JL Smit van Vlakfontein elkeen een morg van hulle plase wat aan die plaas Witpoort grens, geskenk. ‘n Nuwe skoolgebou, bestaande uit twee vertrekke en ‘n amptelike onderwyserswoning, is twee en ‘n half jaar later, op 23 Januarie 1912, geopen.

Oor die afgelope eeu het Laerskool Witpoort ‘n kleuterskool bygekry en dit is by dié Kaalvoet Kleuters waar Hanri Opperman nou hoof geword het. Sy sê dat haar gunsteling tydverdryf is om saam met haar man en twee dogtertjies op die plaas te wees.


Witflip Opperman
Foto: Hendrik Opperman-versameling

Haar onderwysloopbaan het by Laerskool Queenswood begin waar sy as graad drie onderwyseres gewerk het. Daarna was sy vir ses jaar ’n remediërende onderwyseres by onder andere Laerskool Elarduspark, Elsa Struwig Sentrum en natuurlik, Laerskool Witpoort.  


Hanri Opperman
Foto: Verskaf

Hanri se passie vir skoolhou is aansteeklik en sy is op haar gelukkigste wanneer sy iets vir ander mense kan beteken.

 

© 2024 Die/The Bronberger