Kaalvoet Jan het die eerste Poon opgesaal PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 25 September 2019 07:55
Untitled Document

Hoe het dit gekom dat ou Poon, dié maand presies 17 jaar gelede, se heel eerste plotpraatjie in die heel eerste uitgawe van die Bronnie beland het?

Betreklik nuut in die Bronberg-gebied, het ons op ‘n goeie dag saam met die legendariese, oorlede Kaalvoet Jan Vosloo oor ‘n beker boeretroos gesit en gesels. Ons wou meer oor die omgewing en sy eiesoortige mense te wete kom. Kaalvoet Jan was toe reeds ‘n veteraan Bronberger.

Rustig het Jan sy kenmerkende pyp aangesteek en begin gesels: “Onthou julle nog vir ou Minirok Yzel,” het Kaalvoet Jan gevra. Nou het ou Minirok mos net hier naby aan die berg se voet gebly en dit was die ‘hoofkantoor’ vanwaar hy sy koorsagtige veldtog teen die euwels van die destydse minirokmode geloods het, het Jan gesê.

Dit was die einste ou Minirok wat in daardie droogtejare van die sestigs vir elke beskikbare koerant, dominee, minister en almal wat wou en kon lees, geskryf het. Hy het gemaan dat die vreeslike droogte ons straf is omdat meisies en vroue dié duiwelse, kort rokkies dra en dat almal moet saamstaan om die minirok onwettig verklaar te kry.

Nog een van Jan se stories uit die gebied wat ou Poon in die eerste Bronnie oorvertel het, was oor ‘n kleinboer met ‘n kwaai vrou, ‘n Vaaljapie-trekkertjie, brandewyn, ‘n outydse eenskaarploeg en ‘n opportunistiese plaashulp genaamd ou Lighter.

Dit was ou Lighter se taak om agter die ou ploeg aan te loop en dit met die twee handvatsels op die regte spoor te hou waar dit agter die Vaaljapie op die lappie ploegland voortgesleep is.

Jan het vertel dat die kwaai vrou haar stomme man met ‘n verkyker van die opstal af dopgehou het om seker te maak hy vang niks aan wat nie na haar wense en opdrag was nie. Dié geploeg was blykbaar amper soos ’n skattejag van soort. Want weerskante van die ploegland is bottels brandewyn op strategiese plekke in die wenakker versteek. Telkens het dit dan gebeur dat ‘n klip voor die skaar beland of iets met die afgeleefde Vaaljapie se werkinge vlak by een van dié wegsteekplekke fout loop.

Dan het die ou so agter die ploeg of onder die trekkertjie, buite die sig van die verkykende, kwaai vrou, weggebuk om ‘n teugie of twee brandewyn te neem. Wat die ou nie geweet het nie, het Jan vertel, is elke keer as hy klaar aan die Vaaljapie se binnegoed getorring het of van die lastige klip ontslae geraak het en hy weer die trekkertjie opwen om die volgende voor te vat, het ou Lighter sy kans gebruik om ewe vernuftig self ‘n sluk of twee vuurwater weg te werk voor hy sy plek agter die ploeg inneem.

Jan het vertel dit was opvallend dat die begin van die dag se ploegwerk ewe netjiese, kersreguit vore opgelewer het. Soos die werkdag gevorder het, het die ploegvore al skewer begin trek totdat dit met die paar vore duskant tjailatyd ‘n behoorlike slingerspul afgegee het.

Langs ou Poon se beginpad is telkens nog van Kaalvoet Jan se stories oor die gebied oorvertel: Soos oor die dag toe hy wys geword het dat hy deur die destydse veiligheidspolisie weens vermeende ‘regse’ bedrywighede dopgehou word – sy getroue ou hond, Rommel, het met ‘n blinknuwe verkyker in sy bek uit die doringbos op sy hoewe by die opstal opdaag . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger