Ed’s Place in Garstfonteinweg-verlenging het op Vrydag 10 Julie ’n reuse heropeningspartytjie
gehou. Karin Saffy het haar kuierplek vir ’n week of wat
toegemaak om allerhande opknappings aan te bring. Die splinternuwe Ed’s
Place het reeds 11 uur die Vrydagoggend oopgemaak met lewendige musiek,
gratis ‘tapas’ happies en Fernando, hul befaamde Mosambiekse sjef, se
Portugese disse.
xxx
Gert Mossie sê hy haat die winter. Maar sy oorle ma het hom geleer om
altyd die positiewe in enige saak te soek. En toe gaan sit Gert Mossie en hy
dink. Hy het vroegdag al begin dink aan iets positiefs wat die vervlakste winter
vir hom bring en eers hier net voor skemer toe tref dit hom: Hy kan, sê
Gert, aan net een ding dink wat in die winter se guns tel en dit is dat dit nie
nodig is om ys by te gooi nie.
xxx
Daar is allerhande omwentelings by Bafana Kafee. Henk, Marie en Claire is
nie meer met ons nie. Max en haar seun Ariel is weer terug agter die toonbank.
Max is steeds besig om met perde te kompeteer in bykans al die dissiplines
waarin meegeding kan word, maar sy sê dat sy haar 24-uur dag net
beter sal moet beplan en rek om Bafana ook ingepas te kry.
xxx
Nog ’n paar Bronbergse pienkvoetjies het ’n welkome opwagting gemaak.
Geluk aan Johan van British 4x4 en wederhelfte en ook aan gesoute oupa
Nico en ouma Lynette van Kitty Hawk. Kosbaar, hoor.
xxx
’n Groepie vriende loop by ’n watergat in en sien daar is ’n nuwe kroegman
agter die toonbank. Die eerste ou bestel ’n bier en die kroegman sê: “Sekerlik,
dit sal een sent kos.” Die tweede ou bestel ’n dubbel brêndie-en-Coke en
dit kos ook een sent. Hulle bestel kos, en alles kos een sent. Na ’n ruk vra
een van die vriende waar die gewone eienaar/kroegman dan nou vandag is.
“O,” sê die nuwe kroegman, “hy kuier by my vrou”. “En wat doen hy daar,”
vra hulle. “Presies wat ek besig is om met sy besigheid te doen,” was die
antwoord.
xxx
As jy gaan kyk na Kungwini se webtuiste en jy kliek op ‘latest news’ sal jy
sien dat niks nuuts, volgens ons wyse stadsvaders, sedert 25 Maart 2009
gebeur het nie. Nou, kan dit dalk net betwyfel word dat die ou gesegde wat
sê dat ‘geen nuus, goeie nuus is’ in hierdie geval van toepassing is.
xxx
’n Dag ten bate van CHOC Childhood Cancer Foundation, Pretoria, is onlangs
by De Haven Oost op die ou Bronkhorstspruitpad gehou. Fondse wat ingesamel
is, word gebruik tot die voordeel van kinders met kanker en lewensbedreigende
bloedskiektes, en hul families. Choc se hulp aan sulke families
begin reeds met diagnose, aangesien hulle die onvermydelike ontwrigting
wat die kragtige en lang behandelings op die familielewe het, verstaan. |