Verkeersligte ná jare se gesmeek opgerig PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 September 2019 09:47
Untitled Document

Verkeersligte is uiteindelik op die gevaarlike kruising van Atterburyweg en De Villebois Mareuil- / Olympusrylaan aangebring.

Inwoners kla al bykans 15 jaar lank dat die vierrigtingstop op dié kruising nie die verkeer laat vloei nie en het in 2014 reeds ‘n petisie opgetrek om verkeersligte daar te laat aanbring. Die snelle uitbreiding in Mooikloof, Zwavelpoort, Boardwalk, The Wilds en Olympus asook die toevoeging van twee skole aan weerskante van die kruising, het verkeersvolumes laat aanhou toeneem.


Die plaveisel op middelmannetjies en eilande by die kruising

Owerhede het vroeër beweer dat verkeersbeamptes, wat in spitstyd die verkeer daar reguleer het, meer effektief as ‘n verkeerslig was. Tog is verkeersligte jare gelede reeds by twee ander, baie minder besige kruisings op Atterburyweg-verlenging aangebring, naamlik die aansluiting by Erosstraat en Ajaxweg.


Die nuwe verkeersligte by die kruising van Atterburyweg en De Villebois Mareuil- / Olympusrylaan
Foto’s: John Potgieter

Die vertraging in die oprigting van verkeersligte het glo vele oorsake gehad. Daar is vir ‘n verkeerslig begroot in die 2011–2016 begroting, maar die geld is glo hertoegewys. Die stadsraad het glo ook vir die provinsiale regering, wat ‘n deel van die pad besit, gewag om te begin met beplande opgraderings op Atterburyweg voor hulle die verbeterings op De Villebois Mareuil- en Olympusrylaan kon doen.

Die opgraderings wat voltooi is, sluit ‘n sirkel by die ingang na die Maragon Olympus-skool, plaveisel op sypaadjies en middelmannetjies in.

 

© 2019 Die/The Bronberger