Biblioteek ná sewe jaar eindelik oop PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 September 2019 07:46
Untitled Document

Cullinan se biblioteek is ná ‘n wagtydperk van sewe jaar uiteindelik oop vir die publiek.

Die sooispit-seremonie vir die biblioteekpark-projek was sewe jaar gelede, op 28 September 2012. Toe is daar gesê dat dié munisipale projek teen die einde van 2013 klaar sou wees.

Die destydse uitvoerende direkteur van streek vyf, advokaat Frederick Lekwane, het in sy toespraak vertel dat dié projek van R51 miljoen gaan bestaan uit ‘n biblioteek, gemeenskapsaal, sportsaal, gimnasium, ouditorium, kunsgalery, ‘n amfiteater, rekenaarlaboratoriums en speelplek vir kinders sowel as buite-ruimtes waar besoekers kan ontspan en parkeerplekke.


Anwyn Oosthuizen, voor, en Kate Oosthuizen agter haar by die biblioteek-toonbank
Foto: Sarah Chester-Browne

Die biblioteekpark was die metro-raad se eerste projek van dié aard en daar is beraam dat dit werksgeleenthede aan 306 mense sou verskaf. Later is daar gesê dat die projek R80 miljoen gaan kos.

In Oktober 2013 het advokaat Frederick Lekwane gesê dat die vorige hoof van Sport en Ontspanning, wat glo met die sooispit-seremonie aan die gehoor sou gesê het dat die projek in Desember 2013 voltooi sal wees, verkeerd was.


Kate Oosthuizen sit en lees op een van die biblioteek se gemakstoele
Foto: Sarah Chester-Browne

Die projek het by die grondwerke-fase vasgesteek en bly staan. In Julie 2014 het ons berig dat werk uiteindelik ná ‘n jaar en ‘n half se stilstand, weer op dreef gekom het.

Die biblioteek-gebou is op 19 April 2016 amptelik deur burgemeester Kgosientso Ramokgopa van stapel gestuur. Tog kon die plek se binnewerke net nie afgehandel word nie.


Die biblioteek-gebou

Dié Diamant Kamer vir Koophandel het verlede jaar gesê dat die metroraad vir ‘n jaar en ‘n half in ‘n beregtingsproses met die hoof kontrakteur betrokke was, wat die oorhandiging van die biblioteek vir openbare gebruik vertraag het.

Die biblioteek is uiteindelik oop met ‘n voorraad van drie miljoen rand se boeke en baie ruimte wat nog gevul kan word.

 

© 2019 Die/The Bronberger