‘Mak’ leeu byt eienaar dood PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 September 2019 09:45
Untitled Document

Leon van Biljon is op 20 Augustus deur ’n leeu, wat hy van welpie af grootgemaak het, doodgebyt.

Die 70-jarige Leon was besig om aan ‘n heining van die wildkamp by Mahala View Lion Game Lodge in die Leeuwgedacht-bewarea buite Cullinan te werk toe die leeu hom van agter aan die nek gegryp het.


Leon se dogter het gesê dat haar pa met sy skouerlengte grys hare self soos ‘n leeu gelyk het

Volgens polisiewoordvoerder Connie Moganedi, het die ander twee leeus in die kamp reageer en is al drie leeus, genaamd Rambo, Nakita en Katryn, van kant gemaak.

Xander Loubser, Ambu-Link-nooddienste se woordvoerder, het gesê dat mense op die perseel besluit het om die leeus te skiet sodat hulle by Leon kon uitkom. Hy sê dat Leon reeds dood was met die nooddienste se aankoms. Hy het baie bloed verloor deur verskeie oop wonde.


Leon van Biljon saam met Rambo
Foto’s: Facebook

Leon se dogter, Leonette van Wyk, sê dat die leeu wat haar pa se slagaar van agter raakgebyt het, dalk net wou speel. Daar is ook ‘n moontlikheid dat die drie leeus, wat Leon in 2006/7 gekry het en met die hand grootgemaak het, aangevoel het dat hy siek was, sy medisyne kon ruik en uit instink opgetree het.


Leon by die heining met twee van sy leeus

Leonette vertel dat hulle gesin die plaas opgebou het en dat haar pa vir skoolgroepe opvoedkundige praatjies oor leeus gegee het. Haar pa het die plaas ‘n paar jaar gelede verkoop, maar het verblyfreg behou en het vir die leeus daar aangebly. Hy was die enigste een wat hulle in die kamp toegelaat het.

Leonette het vertel dat haar pa altyd gesê het dat as hy eendag moet gaan, hy sal verkies dat dit deur sy diere is.

 

© 2019 Die/The Bronberger