Hervestiging van Plastic View-inwoners op lange baan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 September 2019 07:43
Untitled Document

Die bou van ’n nuwe dorp om inwoners van die informele nedersetting, Plastic View, te hervestig, is op die lange baan geskuiwe weens ‘n fout in die Staatskoerant.

Die nuwe dorp word in Pretoriuspark Uitbreiding 40, oos van Woodlands Boulevard-winkelsentrum, beplan. Dit is slegs 900 meter van die bestaande informele nedersetting langs die NG Gemeente Moreletapark, op grond wat na beraming R400 miljoen werd is.

Plastic View se plakkers en hulle regsverteenwoordigers het dit reggekry om twee stukke grond uit die Tshwane Metroraad se eiendomsveiling op 24 Maart 2015 te hou: Plase 279 en 285 Garsfontein, wat 110 en 106 ha groot is.

Die plase, wat rofweg vanaf die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Garstfonteinweg-verlenging tot by Mooikloofrif strek, is nie opgeveil nie omdat die plakkers hulle met die hulp van Regslui vir Menseregte tot die Pretoriase Hooggeregshof gewend het.

 


Die grond wat in 2015 opgeveil sou word is oorkant Woodlands Boulevard in Garstfonteinweg, tussen die NG Kerk Moreletapark in die weste en Mooikloofrif in die ooste
Foto: High St Auction Co

Luidens ’n hofbevel in Augustus 2009 deur die Hooggeregshof in Pretoria is die metroraad verplig om ’n langtermyn-alternatief aan Plastic View se inwoners te bied.

Omgewingsmagtiging vir die nuwe dorpstigting is deur al die relevante regeringsdepartemente verleen, maar die magtiging het aangedui dat die voorgestelde dorpstigting binne 10 jaar vanaf die datum van goedkeuring moet begin. Dié datum was November 2018.

Die onlangse kennisgewing van die ontwikkeling in die Staatskoerant is nie binne 28 dae vanaf ‘n kennisgewing vir openbare deelname uitgedeel is, gepubliseer nie. Die fout het ingesluip toe die kennisgewing in die inhoudsopgawe gepubliseer is, maar nie in die Staatskoerant self nie. Die munisipaliteit moet die aansoek nou her-publiseer.

Volgens die metroraad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sal bouwerk begin sodra die aansoek weer geadverteer en goedgekeur is.

Die aansoek om dorpstigting is vir 800 wooneenhede gedoen, maar volmag is net vir 600 eenhede verkry. Daar woon glo 853 gesinne in Plastic View, maar slegs 151 gesinne het tot dusver gekwalifiseer om in die nuwe dorp te woon. Die meeste gesinne val buite die voorskrifte van die behuisingskode.

 


Plastic View met Moreletapark in die agtergrond
Foto: Regslui vir Menseregte

Sommige van hulle besit ander residensiële eiendom; ander is reeds goedgekeur vir subsidies in ander projekte; sommige het verkeerde persoonlike besonderhede verskaf en ’n groot meerderheid het geen dokumentasie besit nie.

Belanghebbende instansies, insluitende die Departement van Binnelandse Sake, help die metroraad met diegene wat nie landsburgers is nie en nie in die kategorie van die behuisingskode en toepaslike wetgewing val nie.

’n Vergadering, wat bygewoon is deur verteenwoordigers van die metroraad, metropolisie, binnelandse sake en maatskaplike ontwikkeling, is op 4 September by die NG Kerk Moreletapark gehou. By dié vergadering het dit duidelik geword dat daar geen plan is vir die ongedokumenteerde buitelanders wat in die informele nedersetting woon nie. Dit lyk asof hulle in Plastic View gaan agterbly as die Suid-Afrikaanse burgers verskuif word.

 

© 2019 Die/The Bronberger