Dié baba-bringers is almal stom PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 September 2019 07:42
Untitled Document

’n Oeroue volksgeloof uit die Nederduitse gebied lui dat dit die ooievaar is wat babas bring. Menslike babas is meer volop as ooit, maar die witooievaar, wat vroeër ‘n baie algemene voëlspesie was, se getalle is wêreldwyd besig om af te neem.

Die witooievaar oorwinter in Suid-Afrika en sy broeigebied het altyd van Nederland en Denemarke ooswaarts tot in die Sowjetunie en Griekeland en suidwaarts tot in Klein-Asië, Portugal, Spanje en Noord-Afrika gestrek. Die aantal broeipare het egter in die laaste dekades drasties verminder en witooievaars broei glad nie meer in Switserland en Swede nie.


‘n Volwasse witooievaar
Foto’s: Wikipedia

Dié vermindering in getalle is die gevolg van die ontginning van grasvlaktes, ontwatering van moerasse, die gebruik van hoëspanningsdrade waarmee die voëls doodgeskok word, insektedoders en jag.

Sommige Europese lande probeer om die voëls weer in te voer, soos die ‘ooievaarsdorp’ wat in die Elsas in Frankryk met 220 ooievaars uit Noord-Afrika, gestig is.

Witooievaars uit noordelike Europa trek elke jaar oor die Bosporus, Turkye en al langs die Jordaanvallei af na Egipte en die Soedan op pad na Suider-Afrika. Dié wat in Suid-Nederland en Wes-Europa broei, vlieg oor die Straat van Gibraltar en die Sahara tot so ver suid as die Kaap.


’n Jong witooievaar

Welkom
Wanneer hulle in Suid-Afrika aankom, word dié ooievaars deur die boere verwelkom omdat hulle peste uitroei. Witooievaars vreet grootliks insekte, veral sprinkane, wat die rede is hoekom hulle ook sprinkaanvoëls genoem word. Hulle sal ook skaaldiere, weekdiere, paddas, klein knaagdiere, akkedisse en ander voëls se eiers en kleintjies vreet.

Ooievaars is sosiale diere wat in kolonies broei en ook buite broeityd in groepe leef. Hulle verkies oop terrein soos landerye, grasvlaktes, vleie en uitgestrekte moerasse en vermy gewoonlik gebiede met lang gras of ruig plantegroei.


In vlug trek die witooievaar sy nek reguit vorentoe

Die witooievaar, Ciconia ciconia, is 100–120 cm groot en weeg 2.4–4 kg. Met uitsondering van die swart slagpenne, is dié voëls heeltemal wit met ‘n rooi snawel en pote. In vlug word hulle van reiers onderskei omdat hulle met die kop en nek vorentoe gestrek vlieg, waar reiers met die kop en nek in die vorm van ’n S vlieg.

Die meeste ooievaarspesies is stom en kan geen ander geluid as die klap van hulle snawels maak nie. Hulle klap veral hulle snawels as hulle ‘n maat groet in ‘n ritueel waar die kop so ver teruggebuig word dat die nek teen die rug raak.


Witooievaars verkies oop terrein

Terug
Teen die einde van Maart begin witooievaars groot swerms van 300 tot 400 voëls vorm om saam langs dieselfde roetes terug na Europa te vlieg. Jong voëls, wat nog nie geslagsryp is nie, bly gereeld hier agter. Deesdae bly selfs broeipare agter.

Die meeste witooievaars keer jaar na jaar terug na hulle bestaande neste in Europa. So ‘n nes is ’n groot, slordige konstruksie op die dakke van huise, kerke en ander geboue en word jaarliks herstel.

Die wyfie lê ses tot agt wit eiers wat deur altwee ouers uitgebroei word. Hulle begin broei sodra twee eiers gelê is, wat beteken dat daar ’n ouderdomsverskil van sowat ses dae tussen die eerste en die laaste kuikens is. Die eerste kuikens broei na ongeveer ‘n maand uit en die ouer kuikens verdring die jongeres met voertyd, sodat daar gewoonlik net drie kuikens oorleef.

Hulle verlaat die nes ná agt tot nege weke en is na drie tot vier jaar volwasse. Ooievaars kan 20 jaar oud word.

 

© 2019 Die/The Bronberger