Om wolf skaapwagter te maak Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 18 July 2009 00:48
Untitled Document

Die ingryping van Gauteng om die munisipaliteit van Nokeng tsa Taemane, Cullinan/Rayton, se geldsake in orde te probeer kry, sal deur baie as ’n stap in die regte rigting beskou word. Maar ons is bevrees dat ons dalk hier met ’n klassieke geval van ‘wolf skaapwagter maak’ te doen het.

Die provinsie wat die bestuur van die munisipaliteit oorneem, is dieselfde een wat onlangs saam met ander, sterk uit staatsgeledere berispe is oor die haglike toestand van hulle sake. Maar dit gebeur weer op sy beurt in dieselfde week waarin bekendgemaak word dat korrupte staatsamptenare hulle self binne 21 maande met sowat R607 miljoen se belastinggeld verryk het.

Meer as 2 000 amptenare wat bykans ’n jaar gelede deur die ouditeur generaal pertinent as korrup uitgewys is, sit daarby nog gerieflik in hulle joppies. En soos jy die trappies van die regeringsleer boontoe klim raak die skape net vetter en die wolwe groter. In die tweede week van dié maand moes ons hoor hoe ministers en LUR’s groot bedrae uit die staatskas tap omdat hulle toegekende ampswonings nie vir hulle ‘grênd’ genoeg is nie en hulle ten duurste in luukse huurhuise in plekke soos Woodhill en in hotelle tuisgaan, terwyl die ampswonings leeg en verlate staan.

Hoekom sou dit dan nie gebeur nie, as die alfa-wolf self ’n paar ekstra spogwonings kan kry om sy oorskot vrouens in te huisves?

Allerlei beloftes en dreigemente is gemaak deur die ‘nuwe’ leiers van die wolwetrop dat wanbestuur en korrupsie nie deur hulle geduld sal word nie, maar duidelik val dit deur die hele hiërargie heen op dowe ore. En hoe dan anders? Niemand neem die ou geykte stelling van ‘maak soos ek sê en nie soos ek maak nie’ tog ernstig op nie.

Jammer, maar dis Telkom
In die aanloop tot hierdie uitgawe van Die Bronberger was ons ’n volle twee weke sonder Telkomtelefone. En dit is ook nie die eerste keer wat dit gebeur nie. Ons wil langs hierdie weg net groot verskoning maak aan lesers en adverteerders wat in dié tydperk tevergeefs telefonies met ons in verbinding wou tree. Wat die onderbreking veral erg maak, is dat dit klink asof die telefoon aan ons kant lui, sou ’n mens ons nommer skakel. Aan ons kant is dit egter so dood soos die reaksie wat ons op herstelversoeke van Telkom gekry het. Moet asseblief nie dink dat ons julle oproepe ignoreer nie. Ons sal dit nooit doen nie.

Die kanse is baie goed dat dié ongerief weer gaan gebeur. Dit is goed omdat die Dect-stelsel wat ons gebied bedien verouderd is, en die toring wat die seine hanteer vervalle is. Ons verneem dat daar geen planne is om dit op te gradeer nie. En die kanse is bykans 100 persent verseker dat die kragkabel wat die toring bedien weer gesteel gaan word. Dit steel blykbaar baie maklik. Ons vra julle geduld en julle begrip, en dat julle asseblief ons selnommers sal bel as dit weer klink of niemand die telefoon by die kantoor wil optel nie.

 

© 2020 Die/The Bronberger