'n Boom van vele volksname PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 September 2019 09:41
Untitled Document

Wat sou die boom wees met die grootste verskeidenheid Afrikaanse volksname? Korannaboegoe, bergboegoe, laventelkoorsbessie of laventelbos verwys almal na dieselfde boom, waarvan die jong takke so heerlike geur het dat Boesman-meisies dit glo gedroog het en die poeier gebruik het om parfuum te maak.

Ekstrakte van die gerookte en verpoeierde bas is vir ‘n wye reeks medisinale doeleindes gebruik: Van ‘n koorsafdryfmiddel, ‘n bloedstelpende middel en purgeermiddel tot behandeling vir bloeiende tandvleis, watersug, spysverteringsprobleme, longvliesontsteking, uteriene afwykings, rumatiek en interkostale neuralgie.


Die kurkagtige bas

Dié boompie word gewoonlik so agt meter hoog, maar kan as groot struik ook voorkom. Sy jong takkies is dun en puntig en met silver en roeskleurige skubbe bedek. Die bas is kurkagtig.

Hy dra smal roomkleurige tot geel blomme aan are van omtrent 10 cm lank. Die blomknoppe bly vir ongeveer drie maande aan die boom voor die blomme oopmaak. Stingeltjies dra blomme van verskillende geslagte, met een of twee vroulike blomme onderaan en die res is manlik.


Die roomkleurige tot geel blomme

Vrugte word tussen September en November gevorm. Hulle ontstaan as groen vrugte met drie lobbe, wat later geel word. In die herfs droog die dop uit en ontplof sodat die saad ‘n hele ent van die moederplant af beland.

Dié boompie se wetenskaplike naam is croton gratissimus en hy val in die familie van Euphorbiaceae.


Die blomknoppe bly so drie maande aan die boom voor die blomme oopmaak

Groei
Saad moet versamel word voor die dop oopbars en in ‘n droë houer met ‘n deksel op geberg word sodat die saad nie die wêreld rond spat as die dop bars nie. Saai dit in ‘n goed gedreineerde saailingmengsel en bedek liggies met fyn sand.

Die saailingbakke moet in die lig geplaas word en moet gereeld bietjies water kry tot die sade na drie tot vier weke ontkiem. Daarna moet die plantjies minder water kry en ‘n swamdoder kan aangewend word.


Die boom in sy tipiese omgewing, wat die naam bergboegoe aan hom verleen het
Foto’s: Wikipedia

Saailinge kan tot omtrent 50 mm groei voor hulle in individuele houers uitgeplant word. Die boompies groei aanvanklik stadig. Hulle kan in die tuin uitgeplant word wanneer hulle 600 mm of langer is.

 

© 2019 Die/The Bronberger