Gerhard klap eerste plek met sweep los PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 25 September 2019 09:30
Untitled Document

Sweepklap is ‘n tradisie wat weer herleef. Só sê Gerhard van Zyl, wat terug is uit die buiteland waar hy ‘n eerste en derde prys vir sweepklap in ‘n internasionale kompetisie gewen het.

Gerhard, wat op Kameeldrift Oos woon, het deelgeneem aan die Europese Sweepklap Kampioenskappe, wat van 3 tot 11 Augustus in Newark, Notts, Engeland gehou is. Bykans 3 500 mense het, as deel van die ‘Western Arts’ span, daar gaan sweepklap, mesgooi, bylgooi, pylskiet, tougooi en vangriem draai.


Gerhard in aksie by die kampioenskappe

Die kompetisies was deel van die Europese Jongleer (Juggling) Byeenkoms en Gerhard vertel dat daar allerhande sirkus-mense en cowboys was. Die grasperke was vol mense wat hordes voorwerpe gelyk in die lug gegooi het en mense wat op eenwiel-fietsies gery het.


Gerhard van Zyl met sertifikaat en sweep by die Europese Sweepklap Kampioenskappe
Foto’s: Verskaf

Die cowboys het Gerhard geleer om ‘n vangtou te draai (lasso) en ‘n eenhandige-byl (tomahawk) te gooi en hy was deel van die span wat 50 tot 60 mense per dag oor die nege dae leer sweepklap het.


Gerhard se toekennings

Veertig van die bestes uit 12 lande het aan die verskillende sweepklapkompetisies deelgeneem en Gerhard het eerste plek behaal in ‘n afdeling wat hulle “vertical shotgun cartridge target” noem en ‘n derde plek in die vryslag een-sweep-een-minuut afdeling.


Die Europese Jongleer (Juggling) Byeenkoms het die dorpie van Newark op horings geneem

Gerhard, wat die afgelope nege jaar ‘n sweepvlegter van beroep is, wil graag ‘n sweepklap-klub in ons kontrei begin. Belangstellendes kan hom bel by 083-308-1673.

 

© 2019 Die/The Bronberger