Geliefde Louis skielik oorlede PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 25 September 2019 09:27
Untitled Document

‘n Bekende en baie geliefde inwoner van Rayton, Louis Blom, is skielik aan die einde van Augustus weens ’n bloedklont in ’n aar in die buik oorlede.

Louis het in 1983 ‘n apteek in die dorpie se Saamgroei-sentrum oopgemaak. Hy het aptekerswese aan die Potchefstroomse Universiteit studeer. Later was hy betrokke by ‘n apteekgroep se tak in Faerie Glen.

Hy was die afgelope 26 jaar getroud met Mariëtte Blom, die eienaar van Shalom Eiendomme in die gebied.

Mariëtte het aan Die Bronberger gesê dis moeilik om woorde te vind as jy ‘n geliefde soos Louis verloor in ‘n stadium wat hy nog so baie gehad het om te gee. Hy het so baie planne gehad en so baie dinge wat hom gelukkig gemaak het, sê Mariëtte. Saam het hulle baie uitgesien na ‘n jaarlikse vakansie na die Kaap in November.


Wyle Louis Blom saam met sy vrou Mariëtte
Foto: Verskaf

Mariëtte sê sy is oneindig dankbaar om in ‘n gemeenskap soos dié van Rayton te kan woon en leef.

“Jesus stuur sy engele in al hierdie mense wat my omring en dra. Die boodskappies, oproepe en besoeke is iets wat ek nog nooit beleef het nie. Louis was baie geliefd. As ek mag, steel ek ’n paar woorde van iemand se briefie aan my: “Smart, soos jy baie goed weet, is nie iets wat ’n mens kan systap nie.”

“Soos Louis se teenwoordigheid my lewe verryk en gevorm het, sal my herinnering aan hom met my wees al is dit nie dieselfde as sy nabyheid nie. Beproewing is bedoel om lewensverdieping en lewensverryking te bring al verstaan ek dit nie nou nie. Hy was my man, my maat, my liefde, my kompas en anker en ek gaan hom so baie mis,” het Mariëtte gesê.

Louis laat ook ‘n dogter, Marisa, wat in Nieu Zeeland woon, agter. Die begrafnis was op Donderdag 29 Augustus vanuit die NG-kerk op Rayton.

 

© 2019 Die/The Bronberger